Dwelms: ’n Kopseer vir Namibiese skole

Angelina Norval – Volgens ’n geestesgesondheidshospitaal in Windhoek is dwelmmisbruik ’n groot probleem in Namibiese skole, en is die meeste tieners wat by dié hospitaal opgeneem word, daar weens dwelms.

Die Bel Esprit-hospitaal sê hulle neem weekliks jongmense met dwelmverwante probleme op.

Volgens hulle het die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste ’n studie oor dwelmmisbruik in Namibië gedoen, waarvan die uitslae nog nie bekend gemaak is nie.

"Die meeste dwelmgebruikers is só geheimsinnig daaroor, omdat dit in Namibië onwettig is,” sê Verona Du Preez, die bedryfsdirekteur van Bel Esprit-hospitaal.

Dít bemoeilik natuurlik studies wat oor die onderwerp onderneem word.



Die invloed van dwelms op tieners:

Wanneer dwelms in die liggaam opgeneem word, verander dit die liggaam se fisieke en verstandelike funksies. Dwelms veroorsaak dat die brein se sinapse 'n stortvloed dopamien afskei. Dopamien is ’n chemiese “goedvoel”-oordragstof. Die brein word met die inname van ’n dwelmmiddel deur dié oordragstof oorlaai.

Hierdie oorlading kan tot 'n intense gevoel van plesier lei, en die drang veroorsaak om die betrokke middel weer en weer te gebruik.

Om dié oorlading weer in balans te bring, stel die brein dan op sy eie minder dopamien vry. Na afloop van die gebruiker se high val die brein se dopamienvlakke dus drasties. Dit veroorsaak dat die gebruiker onttrekkingsimptome, wat depressiewe gevoelens insluit, ervaar.

Hierdie negatiewe gevoelens kan ure, dae of maande lank voortduur.

Eenvoudige aktiwiteite, wat normaalweg plesier verskaf, voel dan nie meer so goed soos vantevore nie, want die brein se dopamienreserwes is steeds laag.

Afhangende van die soort dwelm kan die brein permanente skade ly.



Gewilde dwelms onder skoolkinders:

Die algemeenste dwelms onder leerlinge in Namibië is tabak en alkohol, wat “wettige dwelms” is. Dagga en Mandrax-tablette is die algemeenste onwettige dwelms. Hubbly bubbly-pype is ook gewild, en word dikwels gemeng met gegeurde tabak, alkohol, dagga en ander dwelms, soos kokaïen.

Hoekom gebruik tieners dwelms?

Tieners gebruik dwelms om verskillende redes. Groepsdruk en die invloed van vriende speel ’n groot rol, en soms word dwelms gebruik 'n poging om gewig te verloor. Nuuskierigheid en die behoefte daaraan om ervarings te verbeter, is ook redes vir dwelmgebruik.

"Dit help om my stres te verlig en om te ontspan. Dit het my ook gehelp om van my depressie ontslae te raak," het 'n anonieme leerling aan The Zone gesê.

Hoe vind skole uit van leerlinge se dwelmgebruik?

Leerlinge wat dwelms gereeld gebruik, is geneig tot sekere gewoontes: Hulle bunk dikwels klasse en skool, en raak gereeld in die klas aan die slaap. Onderwysers monitor hierdie gewoontes en kan so ’n leerling dan vra om vir dwelms getoets te word.

Hoe raak dwelms die gebruiker en die samelewing?

Die effek van dwelmgebruik en -misbruik op leerlinge, skole, gesinne en die samelewing as geheel is verwoestend. ’n Tiener se verstandelike vermoëns kan afneem, sommige dwelms veroorsaak geestessiektes en psigotiese episodes, asook emosionele probleme soos angs, depressie en gemoedsversteurings.

Gesinne gaan onder ’n gebruiker se dwelmgewoonte gebuk en moet dikwels klein en selfs ernstige misdade verduur wat die gebruiker pleeg. Dit veroorsaak spanning in die gesin omdat die gebruiker emosioneel optree en hom- of haarself voortdurend in konfliksituasies bevind. Mediese hulp vir die gebruiker plaas die gesin ook onder finansiële druk.

Boonop ly die samelewing onder ’n toename in misdaad weens dwelmgebruik en -misbruik. Die verkoop van dwelms is 'n bedreiging vir mense se lewensgehalte en beïnvloed ook hul sosioëkonomiese status.

Hoe word ’n leerling hanteer wat dwelms gebruik?

"Wanneer 'n leerling vir dwelmgebruik getoets word en die uitslag is positief, word hy of sy dissiplinêr deur die skoolraad verhoor en kan geskors word. Aangesien daar geen behoorlike staatsgerief hiervoor in Namibië is nie, soos rehabs, kan geen verdere stappe gedoen word nie.

“Die permanente sekretaris van onderwys stuur die leerling dan terug skool toe. Dit vererger net die probleem, omdat ander leerlinge hierdeur die indruk kry dit is aanvaarbaar om dwelms te gebruik, al is dit teen die wet," het ’n onderwyser aan ’n hoërskool in Windhoek, wat anoniem wil bly, gesê.

Volgens Du Preez van die Bel Esprit-hospitaal, word leerlinge dikwels deur ’n gesondheidswerker na hulle verwys, of word gebruikers en misbruikers deur familie vir behandeling by hul buitepasiënt-afdeling vergesel.

Elke geval word dan deur hul span, wat bestaan uit kenners uit verskeie dissiplines, geëvalueer, wat dan 'n aanbeveling oor behandeling sal maak.

Rehabiliteringsprogramme word op 'n binne- en buitepasiënt-basis aangebied.

Hoe word die probleem gepak?

Die geestesgesondheidseenheid by die Windhoek Sentrale Hospitaal verskaf hulp aan dwelmgebruikers, maar die omvang van die probleem in Namibië bemoeilik ingryping.

Die hospitaal se vermoëns is beperk, wat veroorsaak dat baie leerlinge nie behandeling ontvang nie. Tieners sonder ’n mediese fonds of voldoende finansiële middele het geen ander keuse as om hulself tot ’n staatshospitaal te wend nie.

By Bel Esprit-hospitaal kan jongmense en hul gesinne, wat behandeling nie kan bekostig nie, wel om finansiering aansoek doen.

Bykomende bronne –

casapalmera.com

drugfree.org

drugaware.com.au