Erfenisweek gevier

Nasionale Erfenisweek is onlangs amptelik in die hoofstad bekend gestel.
ELIZABETH JOSEPH
Evany van Wyk

Die bekendstelling van Nasionale Erfenisweek is op 24 April by die Nasionale Teater van Namibië gehou.

“Ná wat as ‘n klein inisiatief onstaan het, word dit vandag beskou as een van die geleenthede waarna die meeste uitgesien word,” het me. Desiree Mentor, voorsitter van die voorbereidingskomitee, tydens die bekendstelling gesê.

Die komitee het ‘n beroep gedoen op alle belanghebbendes wat deel van erfenisweek wil wees, om hulle te kontak. Dit gaan ‘n week van landswye feesvieringe wees en duur van 16 tot 22 September.

Erfenis sluit ons geërfde tradisies, monumente en kultuur in. In Namibië het ons ‘n wye verskeidenheid van kulture. Gedurende erfenisweek kry Namibiërs die geleentheid om dit te vier en ondanks verskille eenheid te bevorder.

Met die hulp van die Nasionale Museum van Namibië, die Museumsvereniging van Namibië (MAN) sowel as die Erfenisraad, het die inisiatief aansienlik uitgebrei.

Vanjaar word dit gevier onder die tema ‘Namibiab /ô /gauba Sao’ wat beteken ‘Alle Namibiërs moet dieselfde Namibiese ritme volg’.

Me. Beverly van Wyk, adjunkvoorsitter van voorbereidingskomitee, asook skakelbeampte van die Erfenisraad, het ‘n versoek gerig aan alle Namibiërs om hul tradisionele klere met trots te dra, hul kulture te vier, te dans en te sing. Volgens haar is erfenis iets wat aan ons elkeen behoort, en dit definieer ons identiteit. “Dus is dit baie belangrik vir ons, in die hede, om dit te bewaar, sodat die toekomstige geslagte kan weet waar hulle vandaan kom,” sê Van Wyk.

Daar sal ook mobiele uitstellings op verskeie plekke in Namibië te sien wees.

Me. Ndapewoshali Ashipala, die kantoorbestuurder by die MAN, meen erfenisweek se gewildheid het toegeneem omdat al hoe meer mense wil weet waar hulle vandaan kom, asook diegene met wie hulle daagliks in aanrakings kom.

“Om te leer van ander se kulture en afkoms, lok al hoe meer belangstelling,” sê Ashipala. Sy sê voorts die MAN, met behulp van die Nasionale Kunsteraad, sal deelnemers ‘n toelaag van N$10 000 gee om reëlings vir die aktiwiteite te tref. Aansoekers met eers by die MAN aansluit en aansoeke moet voor 30 Mei 2019 by die vereniging se kantoor ingehandig word.