Gebreinspoel deur die media

Octavia Tsibes
Charmaine Ikanga



Kyk jy soms in die spieël en hou nie van wat jy sien nie? Jy is nie alleen nie. Die ironie is dat dit soms nie jou liggaam is wat eintlik verander het nie, net jou persepsie daarvan.

Ons het almal dae wanneer ons ongemaklik of ontevrede voel in ons liggame. Hierdie ontevredenheid is dikwels te danke aan die maatstaf wat ons gebruik om onsself te meet, naamlik die modelle wat in tydskrifte pronk, of die akteurs en aktrises in die films, op televisie of op die internet.

Kunstenaars in musiekvideo's gee ons beelde van skoonheid en 'n lewenstyl waarvan die meeste van ons net kan droom. Ons bewonder die manier waarop 'n bekende atleet lyk en wens ons eie liggame kan só lyk.

Bekendes lyk altyd so gelukkig en gewild en ryk in die beelde wat ons sien, maar om mediageletterd te wees is om te verstaan ??dat hierdie beelde nie die hele storie vertel nie.

Skoonheidsmaatskappye en dieetbedrywe gebruik die media om beelde van skoonheid en aantreklikheid te skep en te bevorder. Hulle bied die konteks waarin ons leer om bepaalde waarde te gee aan voorkoms en die grootte en vorm van ons liggame.

Meestal word groter mense negatief uitgebeeld. In films word groter, oorgewig karakters se grootte dikwels die fokus van die rol, en hulle word óf mee gespot of verwerp. Normale grootte en maer karakters word in 'n wye verskeidenheid rolle uitgebeeld, met geen negatiewe fokus op hul gewig nie.

Advertensies het sterk beïnvloed hoe ons bepaal wat aantreklik en pragtig is en die kragtige effek wat dit het op selfbeeld en liggaamsbeeld word erken as 'n bydraende faktor in die ontwikkeling van (gevaarlike) eetsteurnisse.

Die jeug word voortdurend gebombardeer met gedokterde beelde van modelle en bekende persoonlikhede. Hierdie beelde bevorder 'n 'maer ideaal' wat in die eerste plek nie werklik is nie en boonop onmoontlik is om met goeie gesondheid te bereik en te onderhou.

Die kosmetiese- en dieetbedrywe maak geld soos bossies uit die onsekere en ontevrede liggaamsbeelde wat hulle self geskep het. Dit is geen toeval dat hierdie berdywe se definisie van skoonheid wentel om dun, halfgeklede jeugdigheid nie.

Die boodskap wat ons hard en duidelik kry is dat jy nooit mooi genoeg, maer genoeg en jonk genoeg kan lyk nie. Is dit werklik, indien enigsins, haalbare maatstawwe? Of moet ons as Namibiese jeug eerder bewus wees van die slaggate van hierdie benadering en aktief soek na ‘n beter, gelukkiger alternatief?