Gereed vir die vierde ­nywerheidsrevolusie

Die Goethe-Institut Namibia bied vanaf 2018 robotika-kursusse by verskeie skole in Windhoek aan.
Mariselle Stofberg
Enzo Amuele



Die Goethe-Institut Namibia het Saterdag 'n gratis proef­lopie in Windhoek aangebied vir kinders om eerstehands robotbewegings te sien en dien ook as voorbereiding vir die eerste kwartaal van die 2021 robotika-kursusse by die instituut.

Verskeie kinders en hul ouers het die proeflopie bygewoon wat vir beide ouers en hul kinders die geleentheid gee om te sien wat robotika vir kinders behels.

Die instituut bied vier verskillende kursusse vir verskeie ouderdomsgroepe aan.

Goethe-Institut, in samewerking met MindsInAction, bied 'n STEM-program aan wat fokus op wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde.

Die program is daarop gemik om Namibiese kinders 'n nuwe benadering tot kennis te bied en 'n weg na die toepassing van vaardighede in die 21ste eeu moontlik te maak.

Mnr. Willem Veiko, 'n ouer van twee wat die geleentheid bygewoon het, is opgewonde oor die inisiatief en voel dit sal van groot waarde vir sy kinders wees.

Hy was opgewonde om deel van so 'n geleentheid te wees wat hy nooit kon ervaar toe hy grootgeword het nie.

“Dit is iets wat kinders sal inspireer om in te skryf vir kursusse in inge­nieurswese wanneer hulle keuses vir tersiêre opleiding moet maak. Dit sal nie net tot voordeel van die land se ontwikkeling wees nie, maar sal ook 'n toekoms vir entrepreneurs help skep,” het Veiko gesê.

Die Goethe-Institut bied sedert 2018 robotika-kursusse by verskeie skole in Windhoek aan.

Mnr. Detlef Pfeifer, die hoof van die biblioteek en inligting by die Goethe-Institut, sê meer as 200 kinders het by die verskillende robotika-kursusse ingeskryf.

Hulle het weens Covid-19-regulasies die kinders in 15 sessies opgedeel.

Die uitvoerende hoof van Minds­InAction, mnr. Ndaudika Mulu­dileni, sê robotika is 'n belangrike deel van wiskunde en wetenskap en bring 'n praktiese aspek tot inge­nieurswese en tegnologie.

“Deur robotika kan kinders enige projek ontwikkel waaraan hulle kan dink. Die klem is om kinders te inspireer om probleme in hul eie gemeenskap te kan identifiseer en sien hoe hulle deur kennis van robotika hierdie probleem kan help oplos,” het hy gesê.

Deelnemers aan die kursus het die kans om hul eie skeppings te ontwerp en te bou deur basiese elektronika, sensors, motors en ­alternatiewe energiebronne te gebruik.

Deur die vaardighede prakties toe te pas wat op skool geleer word, kan deelnemers deur die grondbeginsels van tegnologie en ingenieurswese, asook die beginsels van programmering talle prettige aktiwiteite met robotte toepas.

Kritiese denke is belangrik vir die kursus en deelnemers sal navor­singsvaardighede ontwikkel wanneer hulle probleme oplos.

Leerlinge tussen die ouderdomme van 8 en 16 jaar kan registreer.