‘Glitz’ en ‘glam’

Verlede jaar het Arvashni Gorases deur middel van haar liefdadigheidsprojek ses meisies uit vyf skole se drome help bewaarheid.
Helene Bam
Michelline Nawatises

Glitz and GLAM (Guidance, Life Skills and Mentorship) is 'n liefdadigheidsprojek wat daarop gemik is om minderbevoorregte graad 12-meisies te identifiseer en hulle te help om hul matriekafskeiddroom ’n werklikheid te maak.

Boonop sluit dié projek ’n werkwinkel in wat meisies met lewensvaardighede toerus en hulle help om aansoek om universiteitstoelating te doen. Hulle word ook gehelp om vir beurse en lenings aansoek te doen.

Arvashni Gorases is 'n ekonomie-student aan die Universiteit van Namibië (Unam) en die stigter van Glitz and GLAM.

Arvashni se ma het haar geïnspireer om die projek aan te pak.

“My ma het my vertel dat haar ma nie kon bekostig om vir haar afskeid te betaal nie, so ek het gedink daar is meisies wat dieselfde voel en ek wil na soveel as moontlik van hulle uitreik en help,” het sy gesê.

Arvashni maak gebruik van sosiale media om ondersteuning vir haar projek te kry in die vorm van grimeerkunstenaars, haarstiliste en rokskenkers.

Vanjaar fokus sy slegs op een skool, Hoërskool Hage Geingob, omdat die behoefte by dié skool so groot is.

In drie dae het sy en haar span reeds 25 rokke ingesamel .

“Dit is wonderlik om te sien hoe baie meisies gretig is om te help,” het sy gesê.

Arvashni het as stigter ’n groeiende aantal vrywilligers wat haar help met alles wat nodig is.

Haar vrywilligers sluit tans Menelie Keis, Gisella Castellano, Ann Adeva Njambali, Catherine Tsuses, Talohole Ipinge, Magdelana Haigura en nóg belangstellendes in.

Tydens die werkwinkel wat Glitz and GLAM aanbied, word meisies ook gemotiveer en raad gegee oor toekoms- en loopbaangeleenthede.

Aangesien die projek steeds relatief klein is en hulle nie borgskappe het nie, is dit net werksaam in Windhoek, maar dit sal in die toekoms na ander dorpe uitgebrei word.

Arvashni beoog om na die ander 13 streke uit te brei en om teen volgende jaar ook borgskappe te hê om matriekseuns te help.

Gisella Castellano, ’n vrywilliger, het gesê die hoofrede waarom sy 'n vrywilliger is, is omdat sy die minderbevoorregtes wil help en die dag onvergeetlik wil maak vir diegene wat graag hul matriekafskeid wil bywoon. Gisella help graag met hare en grimering.

Arvashni is 'n gekwalifiseerde nael-, haar- en grimeertegnikus, en help op dié manier waar sy kan.

“Ek het ongelukkig nie die hulpbronne of geld om seuns ook te help nie,” het sy gesê.

Vir meer inligting, skenkings of hulp, kontak Arvashni by vashnigorases@gmail.com.