Groot skenking vir Laerskool Otjomuise

Nigerian Women in Namibia belê in onderwys
ELIZABETH JOSEPH
Justicia Shipena

Die leerlinge van Laerskool Otjomuise in Windhoek het onlangs ’n skenking van skooldrag en twee wit skoolborde ter waarde van N$25 000 van die Nigerian Women in Namibia ontvang.

Die skool het die afgelope ses jaar geweldige groei ervaar met 35 klaskamers wat vanaf voorskool tot ouer leerlinge strek, en beoog om elke jaar meer grade by te voeg. Die skool maak veral vir kinders van minderbevoorregte families in die omgewing voorsiening.

Volgens me. Aishe Bello, die president van Nigerian Women in Namibia, is gemeenskapswerk deel van hul bedrywighede en is dit ook deel van hul program om na Namibiese burgers uit te reik.

“Dit was nog altyd ons visie om meer te doen, maar sekere beperkinge het vordering moeilik gemaak, maar ons sal altyd ons beste doen om seker te maak ons bereik minderbevoorregtes in die gemeenskap,” het Bello gesê.

Bello is dankbaar vir die borge wat die organisasie met hul gemeenskapswerk ondersteun het.

Mnr. Awie Saal, die skoolhoof van Laerskool Otjomuise het tydens die oorhandiging gesê die Nigerian Women in Namibia het die skool besoek en gesê hulle sal graag ’n skenking wil gee. Die skool het besluit hul grootste behoefte is skoolklere.

“As skool is ons dankbaar vir hierdie ongelooflike bydrae,” het Saal gesê.

Hy voeg verder by hierdie skenking is nie net vir die skool en die leerlinge van waarde nie, maar sal ook die hele land in die toekoms baat.