Hoërskole vra mekaar vas

Die Bank of Namibia se tweejaarlikse vasvrakompetisie vir hoërskole het weer eens vir hope pret, spanning en opwinding gesorg.
Evany van Wyk
Evany Van Wyk

Meer as 716 leerling van 179 skole het vanjaar aan die Bank of Namibia (BoN) se vasvrakompetisie deelgeneem.

Die doelwit van die tweejaarlikse kompetisie is om finansiële geletterdheid te bevorder. Die bank verskaf hulpbronne aan die deelnemers.

In die finaal, wat Vrydag in die hoofstad gehou is, het die meisiespan van die Sekondêre Skool De Duine op Walvisbaai die span van die Hoërskool Epako op Gobabis uitgestof.

Strawwe kompetisie het gelei tot ? ‘sudden death’-ronde waarin die finaliste vyf vrae gevra is om die wenner te bepaal. Die spanning was tasbaar totdat die wenners aangekondig is.

Hoërskool Duinesig het N$50 000 losgeslaan en Epako N$30 000.

Die Hoërskool Etosha, in die derde plek, het N$10 000 vir hul skool gewen. In die vierde plek was Dr. Romanus Kapungu wat ? splinternuwe drukker vir die skool losgeslaan het.

Me. Cathleen Galant, ’n onderwyseres van Duinesig, het gesê hul wil om te wen was vir die span die beste aanmoediging.

“Ons het lank voor die tyd begin voorberei met ou hulpbronne. Ek is oneindig trots op hulle vir die harde werk en toewyding,” het sy gesê.

Een van Epako se leerlinge het gesê dit was “absoluut ongelooflik om so goed in die kompetisie te vorder. Ons het dit glad nie verwag nie en ons is só trots,” het sy gesê.

Mnr. Ebson Uanguta, die adjunkgoewerneur van die BoN, het tydens die geleentheid gesê die deelnemers moet baie trots op hulself wees.

Hy het die ministerie van onderwys bedank vir die ondersteuning van die projek.

“Ons het besef finansiële geletterdheid vanaf ? jong ouderdom is van kardinale belang sodat mense ingeligte besluite kan neem wat hul geldsake betref,” het Uangata gesê.

Hy het die leerlinge aangemoedig om altyd geleenthede met albei hande aan te gryp en daarna te streef om vooraanstaande lede van die gemeenskap te wees.

Foto’s: Evany Van Wyk

BON1- Hoërskool Duinesig se meisiespan het die eerste prys losgeslaan.

BON2- Die Hoërskool Etosha-span, wat derde was, bespreek hul antwoord gedurende die kompetisie.