Jongmense se wêreld geskud

Die Namibiese Mediatrust (NMT) het ’n dag lange werkwinkel genaamd YouthQuake vir jongmense by die Gateway-sentrum gehou.
Michelline Nawatises
Michelline Nawatises

Onder leiding van sprekers is die volgende temas bespreek: Jou stem in die pers, ontwrigtings, die geskarrel vir data, die krag van handelsmerke en volwassenheid.

YouthQuake het ten doel om jongmense 'n veilige plek te bied om hulself uit te druk, om inligting van goeie gehalte te bekom en om planne vir die toekoms te maak.

Loide Angula, een van die deelnemers aan dié jeugwerkwinkel, het gesê sy waardeer dié projek.

"Dankie aan die organiseerders van YouthQuake. Ek het in die Noorde grootgeword en het nooit die geleentheid vir dié soort gesprekke gehad nie. Dit het my beter laat ontwikkel, en sal jongmense ná ons ook aanmoedig," het sy gesê.

'n Ander student het genoem die jeug het 'n rimpeleffek op die samelewing, aangesien hulle die invloedrykste mense in die gemeenskap is en die toekoms by hulle berus.

Zoe Diekmann, een van die organiseerders, het gesê hulle het goeie terugvoering ontvang – waarskynlik omdat hulle aktuele sake bespreek het.

Die meeste deelnemers het gesê YouthQuake het hul persepsie verander.

'n Derdejaarstudent aan die Universiteit van Namibië (Unam), het gesê hy het baie uit die werkwinkel geleer.

YouthQuake beoog om ander landstreke ook te besoek.

Die gekose sprekers was mense wat 'n impak op die samelewing en die jeug het.

Mediaombudsman John Nakuta het belowe om meer mense van sulke groot projekte bewus te maak.

"Ek is bereid en gereed om met hierdie jongmense te werk en sal myself aan toegang tot inligting deur die kantoor van die mediaombudsman toewy," het hy gesê.