Moedertaalonderrig

Die lede van die Waprant het aan leerlinge van WAP gevra hoe belangrik hulle voel dit is om onderrig in jou modertaal te kry.
Mariselle Stofberg
Alissa Botha

Ja, omdat jy beter verstaan as jy in jou moedertaal onderrig kan ontvang. Wanneer jy in ’n vreemde taal skoolgaan en jy nie die woorde se definisies verstaan nie, kan dit skoolgaan en leer moeiliker maak.

Christo Boshoff

Ek glo en weet dat dit voordelig is. Baie wetenskaplikes het dit al bewys, en dit maak sin. Die taal waarin jy dink en redeneer moet ook die taal wees waarin jy inligting inneem en leer, want dan kan jy beter begryp, ontleed verstaan en uiteindelik weer die inligting weergee.

Kaylan Eksteen

Dit is om te ewe of jy nou in jou moedertaal onderrig ontvang, of byvoorbeeld in Engels onderrig word. Dit help jou dalk om die werk beter te verstaan, maar dit help mens nie in die toekoms as hulle internasionaal wil gaan studeer of werk nie.

Milne Becker

Volgens my is dit voordelig, omdat jou brein ingestel is om in jou moedertaal te dink en te redeneer. Jy dink dus optimaal in jou moedertaal. Jou moedertaal laat jou toe om inligting makliker te verwerk en te verstaan en help jou dus ook in die effektiwiteit waarmee jy jou skoolwerk doen.

Benneton Calitz

Dit is ’n voordeel om onderrig te ontvang in die taal wat jy die beste verstaan, in dié geval jou moedertaal. Meeste van die terme wat gebruik word, is reeds aan jou bekend en jy hoef dus nie in die eksamen te sit en wonder wat die woord beteken wat jy in, byvoorbeeld, ’n ongesiene gedig lees nie.

Lee-Anne Smith

Ja, dit is! Wanneer leerlinge in hulle moedertaal skoolgaan sal hulle ook meer ontwikkel in die taal, in meer gemak leer en ook konsepte makliker begryp. Jy leer in die taal wat jy ken en liefhet, en dit maak die leerwerk makliker.

Anja Janse van Rensburg

Ja, dit is, omdat kinders dan huis toe gaan en verder hulle moedertaal gebruik. Vir kinders is dit dan ook makliker om hulp by vriende of familie te kry wat dieselfde moedertaal het, want dan kan jy jou familie en vriende raadpleeg as jy iets nie verstaan nie.

Isabella Savoldelli

Ja, want dit is baie makliker om te leer en te verstaan in die taal waarin ons dink. Vir jou as Afrikaanssprekende help dit ongelooflik baie as jy leer in die taal wat jy ook by die huis gebruik, want dit is die taal waarmee jy vertroud is en wat jy verstaan.

Hestia van Schalkwyk

Dis die taal waarin ons dink en ons gebruik dit vir al ons daaglikse aktiwiteite en wanneer ons met vriende en familie kommunikeer. Ons is op ons gemaklikste in ons moedertaal en daarom is dit belangrik en ’n groot voordeel om onderrig in hierdie taal te ontvang.

Olivia Engelbrecht

Ja, dit is ’n groot voordeel, want nie net maak dit alles vir jou as leerling makliker om te verstaan nie, maar dit bevorder ook jou eie woordeskat in jou taal en kweek ’n liefde vir jou taal wat andersins dalk mag verlore gegaan het.