’n Kers vir Paasfees

Mariselle Stofberg
Theo Borstlap, die bekende sakeleier en eienaar van Theo's Superspar in Otjiwarongo, nooi die gemeenskap uit om dié Paasfees werklik weer te besef waaroor hierdie feestyd gaan.
“Ek wil graag ’n beroep doen op die hele Namibië om hierdie Paasfees ’n fees van verootmoediging, belydenis en lofprysing te maak. Nog nooit in die geskiedenis het ons die geleentheid gehad om Paasfees voluit te vier sonder enige onderbrekings nie.”
Borstlap sê verder dit is ’n eerste vir mense om in hierdie tydperk vir 21 dae tot jou huis beperk te word en moedig die land aan om hierdie tyd te benut om werklik aan hul medemens te dink en die ware betekenis van hierdie tyd te onthou.
“Ek vra dat elke gesin in hul eie huise vanaf Woensdag, 8 April tot Donderdag, 16 April elke aand om 19:00 ’n kers aansteek of ’n olielamp buite los of selfs ’n rooi lap oor die voordeur hang en as land saam voor God sal staan,” sê Borstlap.
“Kom ons gebruik hierdie tyd om te bid vir ekonomiese herstel, dat besighede en bedrywighede weer sal normaliseer, vir genesing en dat almal weer werk toe sal kan terugkeer as die tydperk van afsondering verby is.”

FOTO AUGETTO GRAIG