’n Skool met ‘n verskil

Kandidate word voorberei vir beroepe wat nog nie eens bestaan nie.
ELIZABETH JOSEPH
Skoolverslaggewer

Pro-Ed Akademie het in sy kort bestaan al telkens die nuus gehaal. Aan die einde van 2018 was dit eens dat Pro-Ed Akademie een van die top IEB- skole in die land is toe drie Pro-Ed leerlinge onder die top 5 presteerders van Namibië aangewys is. Alhoewel daar nie baie graad 12-leerlinge was nie, het Pro-Ed met ’n 100% slaagsyfer, 58 A’s en 61 B’s gespog.

Maar dit is nie al wat die skool uniek maak nie. Estelle Bailey is ’n geregistreerde opvoedkundige sielkundige wat van Maandag tot Vrydag hier werksaam is. Met haar kundigheid help sy kandidate met leerprobleme en leer hulle verder gepaste studiemetodes. Sy glo voorts dat die emosionele welstand van kandidate uiters belangrik is veral wat skoolprestasie betref. As kandidate nie “emosioneel” gesond is nie, kan hulle ook nie optimaal presteer nie. Tans is Estelle een van die enigste Namibiërs wat by die Universiteit van Kalifornië ingeskryf is vir haar doktorale studie. Sy is veral passievol oor adolessente, hul verskillende ontwikkelingsfases asook die belangrikheid en effek wat sleutelverhoudings op hulle het.

Judith Labuschagne is een van die nuwe leerkragte by Pro-Ed Akademie. Sy is een van vele goed gekwalifiseerde onderwysers met ’n Honneursgraad in Biochemie en ’n onderwysdiploma van die Universiteit van Bloemfontein. Sy het van die eerste dag af maklik ingeskakel by die skool en praat vol lof van die warmte wat haar medepersoneellede uitstraal. Dit is veral vir nuwelinge belangrik dat werkskollegas jou laat welkom voel en altyd bereidwillig voorkom. Behalwe vir die samesyn onder die personeel is sy ook beïndruk met hoe goed toegerus die skool is. Sy is ook trots op die skool se gebruikersvriendelike benadering, waar belangrike kommunikasie tussen personeellede elektronies weergegee word. Verder is die skool uiters goed georganiseerd en het ’n mens al van die eerste dag af ’n klas-en toetsrooster.

Dit is nie net die georganiseerde personeel wat vir Judith beïndruk het nie. Die respek wat die kandidate teenoor leerkragte betoon, is opmerklik. Verder is dit duidelik dat Pro-Ed ’n hele klompie ywerige en gemotiveerde kandidate het. Dit is vir Judith lekker om in kleiner klasgroepies te werk. ’n Mens kan meer aandag aan kandidate gee en dit bevorder samehorigheid. Sy geniet verder die entoesiasme en selfstandige ingesteldheid van die kandidate. Die skool se leerlingraad speel veral hier ’n kardinale rol. Hulle help registeronderwysers met allerhande takies en sorg verder dat dissipline deurgaans gehandhaaf word.

Lizet van Wyk is ’n gewilde en entoesiastiese onderwyser. Haar hoofdoel in die lewe is om ’n verskil te maak. Sy is geesdriftig oor haar werk en staan elke oggend gemotiveerd op. Dit is vir haar lekker om met tieners te werk en te gesels en sy hou veral daarvan om die “dieper” mens raak te sien.

Pro-Ed glo aan deurlopende professionele opleiding en onderwysers word gereeld op kursusse gestuur om op hoogte te bly van die nuutste tendense in die onderwys. Lizet glo die klaskamer moet in ’n stimulerende leeromgewing omskep word waar beide leerkragte en kandidate bymekaar kan leer. Sy is dankbaar dat die bestuur van Pro-Ed vir leerkragte geleenthede bied om hulself gedurig professioneel te verryk en hul verder die vryheid gee en aanmoedig om hul passie vir onderwys uit te leef. Volgens haar is ’n goeie leerkrag ’n lewenslange leerder.

Pro-Ed streef daarna om innoverend te wees, want die skool besef dat die veranderende omgewing waarin ons leef innovasie en kreatiewe denke vereis. Met die tegnologie van vandag word jong mense oorlaai met inligting. Die skool besef dat kandidate ingeligte besluite moet neem en ’n duidelike onderskeid moet kan tref tussen feite en menings, relevante en irrelevante inligting. Die rol van ’n skool word dus al hoe ingewikkelder. Kandidate se kritiese denke moet bevorder word en om hierdie rede moedig Pro-Ed kandidate aan om vrae te vra en self oplossings vir probleme te vind. Kandidate moet dus voorberei word vir al die nuwe beroepe in die toekoms (selfs die wat nog nie bestaan nie) en talle ander uitdagings.

Behalwe die skool se strewe na vooruitgang, geniet Lizet die goeie gesindheid van die kandidate. Daar is baie leerlinge wat uitstaan omdat hulle verantwoordelikheid neem vir hul toekoms, entoesiasties en gedrewe is. Dit motiveer haar as onderwyser om harder te werk. Die beste eienskappe wat ’n onderwyser kan hê, is nederigheid, geloof en passie. Lizet is ’n voorbeeld hiervan.

Volgens Meneer Dentie Louw, ’n passievolle vegter van die Afrikaanse taal en kultuur en ook Pro-Ed se ATKV-voog, doen Pro-Ed voorts baie om veelsydigheid te bevorder. Kandidate word aangemoedig om hul passie uit te leef in kultuur en sport en presteer besonder goed. Leerkragte werk almal baie hard en daar is spesiale komitees wat skoolgees en karakterbou bevorder. Die geeskomitee sorg vir baie pret en Vrydae is vir almal ’n hoogtepunt wanneer die ATKV-komitee vir almal musiek speel. Die skool maak ’n punt daarvan om nie net Afrikaanse musiek te speel nie sodat almal welkom kan voel.

Behalwe Robotika, is Pro-Ed ook trots om navorsingsmetodiek as ’n vak aan te bied. Dit help kandidate om probleme op te los en navorsingsbronne reg aan te wend. Vakke soos beroepsvoorligting, liggaamsoefeninge (graad 8-9), lewensoriëntering, kuns, tegniese tekeninge, toerisme en gasvryheidstudies geniet ook aandag sodat kandidate soveel as moontlik keuses kan hê.

Een ding waarvan almal seker kan wees, is dat Pro-Ed Akademie ’n voorstaander is van nuwe vakke, nuwe idees en nuwe geleenthede. Dit is ’n skool met ’n verskil.