NAPSO-NWU stig onderwysopleiding instansie

ELIZABETH JOSEPH
Leandrea Louw

Die Namibiese Privaat Skool Organisasie (NAPSO) in samewerking met die NoordWes-Universiteit (NWU) van Suid Afrika maak geskiedenis die jaar met die opening van 'n onderwys opleiding instansie tans by Pro-Ed Akademie in Swakopmund.

Agtien studente studeer deur die instansie vir hul B.Ed-graad in onderwys. Terselfdertyd kry hul ook noodsaaklike praktiese ondervinding sowel as om kursusse, klinieke en ekstra kurikulums baas te raak. Pro-Ed Akademie het drie klaskamers spesiaal opgerig vir die opleiding.

Wouter Niehaus, hoofuitvoerende beampte van NAPSO vertel met trots dat die instansie 'n droom is wat drie jaar gelede onstaan het.

"Dit het baie hardewerk gevat om hier te wees vandag. Die gedagte is dat ons kwaliteit onderwysers hier wil kweek.”

Henry McCarthy, die NAPSO-NWU kampus bestuurder, vertel dat die gedagte is om die studente soveel as moontlik praktiese ervaring te gee, terwyl hul teoretiese studies doen.

“Dit gebeur baie, dat onderwysers die teoretiese kennis het na universiteit, maar sodra hul by die skool kom, dan weet hul niks van die praktiese gedeelte, en dan moet hul maar heel van voor af opgelei word. Ons het ook gesien dat dit vat omtrent ‘n onderwyser nege jaar om te kan se ‘nou weet ek min of meer hoe dinge gedoen word’.

“Met hierdie instansie wil ons studente soveel as moontlik blootstel aan die onderwys, en alles wat dit behels.”

“Die onderrig het twee komponente; twee dae in die week, word hul in ‘n klaskamer geplaas, waar hul observeer en dan word hul dan ook gewys hoe om klas evaluasies te doen, hoe stel jy ‘n toets op, hoe word ‘n toets gemerk, hoe gee jy klas, die verskillende klas-gee modelle, jou interaksie met die kinders, hoe jy met hul praat. Die ander komponent is dan die buitemuurse aktiwiteite waar die studente blootgestel word aan die verskeie sport kodes en kultuur aktiwiteite. Hier word hul dan oor die vier jaar gewys wat word van ‘n span afrigter verwag, wat is die praktiese beplanning wat jy moet doen, hoe kalk jy ‘n baan, al hierdie dinge. Ons groot visie dan is, na hierdie vier jaar, dat die studente van ons, al hierdie dinge onder die knie het en dan ‘n afgeronde produk aan die skool gemeenskap van Namibie gee.”

As die studente dan erens vashaak, met die teoretiese gedeelte van die onderrig is daar mentors aangestel om hul te help.

Die NAPSO-NWU personeellede is Anne-Marie Schoeman (admin), Rina Stampe (senior fase), Ingelore van Staden (grondslap fase), Willie Greeff (intemediêre fase) Niel Prinsloo (normatiewe leer) en Grundula Visage (duits onderrig).

Met elke jaar gaan die studente ook ‘n addisionele taal aanleer. Vir die eerste jaar gaan hul duits leer, en teen volgende jaar gaan dit ‘n inheemse taal wees soos Otjiherero of Oshiwambo.

Boonop, gaan die studente nog ‘n kursus ook doen – christelike onderwys in praktyk. Niel Prinsloo, dosent van die christelike onderwys in praktyk vir NAPSO vertel dat hierdie kursus wil die studente leer hoe om ‘n Christen onderwyser in die praktyk te wees.

“Die kursus sluit die Bybelse begronding van Christelike onderwys, die vorming en begeleiding van leerlinge, die taak en rol van die Christen-onderwyser en ook die inkleding van die Christelike skool in al sy aspekte in. Die kursus beskryf dan ook die rol van die onderwyser en die leerlinge, die ouer, die skoolbestuur, die gemeenskap, die kerk, die owerhede, die hantering van die voorgeskrewe kurrikulum en naskoolse aktiwiteite.”

Wouter Niehaus het dan ook gesê die 2020 inname is reeds gesluit maar vir 2021, kan aansoeke vanaf Junie 2020 gedoen word.

“As jy graag onderwys wil doen, omdat dit is jou passie is, moet jy baie hard leer om daardie droom ‘n werklikheid te maak. Die universiteite gaan hul APS telling verhoog vir onderwys, huidiglik staan dit nou op 24 en ek reken dit sal na 26 verhoog word. Gaan kyk eerder nou wat is jou telling, en mik eerder vir 27 punte. Werk hard daarvoor want dan wag hier vir jou ‘n ongelooflike toekoms.”

Hy vertel die studente was gekies as gevolg van hul APS telling as ook ‘n getuigskrif van hul skoolhoof. Voorkeur was gegee aan leerlinge van NAPSO skole, maar daar is uitsondering gemaak vir leerders van ander skole.

Die studente dusver is Christelle Brandt (Leonardville), Chantal Marais (Swakopmund), Diana Boshoff (Grootfontein) Elne Steyn (Karasburg), Francois Angenbach (Katima Mulilo), Iané Fourie (Katima Mulilo), IJ Grobbelaar (Rundu), Jo-Ané Blaauw (Tsumeb), Jomé Vermaak (Otjiwarongo), Lezanne Britz (Tsumeb), Marina Binneman (Stampriet), Nicole Marais (Okahandja), Niell Niehaus (Tsumeb), Su-Mari de Klerk (Swakopmund), Wilmarie Smit (Windhoek) en Xané Steyn (Rundu).

Lize Visser vertel dat sy nog altyd onderwys wou studeer het. “Ek gaan die grondslag fase doen – ek geniet dit vreeslik baie met die kleiner kinders. Dit is rerag ‘n spesiale voorreg om deel te wees van die instansie – wat dit nog lekker maak is dat dit in Swakopmund is en hier is dit baie rustig. Dit het ‘n fantastiese vakansie atmosfeer wat ‘n mens net soveel minder angstig maak gedurende die leer proses.”

Agt van die student bly ook in ‘n NAPSO ‘koshuis’, onlangs gestig in Swakopmund. Dit is ‘n klipgooi van die skool af, en elkeen het hul eie kamer, daar is ‘n sitkamer, kombuis, parkeerplek, as ook ‘n spesiale studie hoekie.