Privaatskool Excelsior vier 30 jaar

Mariselle Stofberg
Die Privaatskool Excelsior op Aroab vier vanjaar sy 30ste bestaansjaar.

Excelsior het op 22 Januarie 1991 met slegs 18 leerlinge geopen, maar “klein begin is groot gewin”.

Daar is aanvanklik in Aroab se landbousaal skoolgegaan, want bouwerk aan die huidige skoolgebou het eers in Julie 1991 afgeskop. Die eerste vier klaskamers is amptelik op 2 Oktober 1992 ingewy, maar namate Excelsior se aantal leerlinge deur die jare gegroei het, was vier klaskamers nie meer voldoende nie en is daar nóg aangebou.

Die skoolgebou is egter nie al wat gegroei het nie. Vandag getuig onder meer die skoolsaal, biblioteek, twee koshuise en sportgronde (wat perdestalle, tennis- en netbalbane en meer onlangs boogskiettoerusting insluit) van jare se toewyding en liefde vir die saak.

Gloudien Minnaar, skoolhoof van Excelsior, meen die afgelope 30 jaar het verskillende mense diep spore by Excelsior getrap.

“Ons is dankbaar vir elke leerling, ouer, personeellid en die Aroab-gemeenskap wat bygedra het tot Excelsior se sukses. Die getroue ondersteuning wat Excelsior uit verskillende oorde ontvang, is ook iets wat veral die afgelope drie dekades uitgestaan het.”

Daar is verskillende geldinsamelingsprojekte, soos die immergewilde jag- en vakansieprojek wat vir die eerste keer in 1993 gehou is en steeds jaarliks plaasvind.

“Om 'n privaatskool aan die gang te hou, is 'n duur besigheid en die skoolgeld wat ouers betaal kan onmoontlik alle kostes dek. Ons is daarom elke jaar oorbluf deur mense se ondersteuning, selfs deur moeilike tye – en nou 'n wêreldpandemie!” het Minnaar verder gesê.

Minnaar sê al het die Covid-19-pandemie planne vir 'n groot verjaardagfees in die wiele gery, beplan hulle om die skool se dertigjarige bestaan op ander, kleiner maniere te vier.

“Maar wie weet, dalk hou ons tog nog later 'n groot makietie.”