Pro-Ed spog met wêreldkulture

Izelle Oosthuizen
Gedurende die week wat op 17 Julie begin het, het Pro-Ed sy kulturele kant na vore gebring. Die kultuurweek was groot pret en ons het baie by mekaar geleer. Elke pouse het ‘n graadgroep ‘n kans gehad om 'n spesifieke kultuur van hul keuse uit te beeld.
Eerste aan die beurt was dit die graad 8's en hulle het besluit om Hawaii uit te beeld. Daar was op daardie sonskyn Maandag, heerlike pynappel en hoender "wraps" by die snoepie te koop. Ons het geleer dat ondersese vulkane die eilande van Hawaii laat ontstaan het.
Op die tweede dag is ons by die hek verwelkom deur leerders in sombrero's. Jurian Rabie en Giovanni Suardi het die inisiatief geneem om Nacho's in hul sombrero's te gooi en uit te deel vir die leerders. So kry ons ook 'n smakie van Meksiko. Ons leer ook dat die grootste wildekat in Noord-Amerika aangetref word in die woude van Meksiko.
Op die derde dag was die graad 10's aan die beurt en ons het die All Blacks se naam mooi hoog gehou. Kyle Cowley het onderneem om die voortou te neem met die uitvoer van die Haka. Nieu Zeeland het nuwe betekenis gedurende hierdie dag gekry terwyl koffie en malvalekkers verkoop is. 'n Interessante feit is dat net 'n enkele 5% van die populasie op hierdie eiland mense is en die oorblywende 95% - net diere!
Daardie Donderdag het die graad 11's hul kreatiwiteit gebruik en Ierland uitgebeeld. Daar was baie meer rooikoppe as gewoonlik en hulle het ons ingelig dat Ierland die grootste bierproduksie ter wêreld het. Hulle het buite die boks gedink en 'n fotohoekie gehad waar leerders in Ierse Leprechaun-uitrustings foto's kon neem.
Op die laaste dag van die week het die graad 12's Duitsland uitgebeeld. Daar was heerlike hoenderborsies te koop en ons leer ook dat 65% van die snelweë geen snelheidsperke het nie. Elke leerder stap uit met ‘n Duitse vlaggie op die wang. Interessante feit: Berlyn is nege keer groter as Parys en het meer brûe as Venesië.

Ons sluit daardie week af met 'n talentvolle Talentaand by die hoërskoolkampus. Dit was die ideale geleentheid om ons talent aan die res van die skool te wys. Daar was ongeveer 25 inskrywings en almal was puik verby!
Baie geluk aan die wenners! Pryse is oorhandig aan Janus Botes wat ‘n uitstekende ligvertoning gelewer het, en Jessica Strydom wat “Peter Pan” en “Teardrops on my Guitar” gesing het. Die eerste prys is oorhandig aan die 2017 matriekseuns. Ons sal vir altyd julle hartroerende opvoering van 'Harde kole' (oorspronklik deur Rikus Nel) onthou en koester. Julle is waarlik 'n unieke groep!
Hierdie suksesvolle aand is moontlik gemaak deur Marilee Snyman, Nicole Taylor en hul span wat ‘n bydrae gelewer het. Hulle het baie hard gewerk om hierdie aand lekker, onvergeetlik en spesiaal te maak. "Ons het besluit om die kultuurweek dieselfde week as die Dag van die Afrika- Kind te maak, om sodoende almal betrokke te maak deur 'n land uit te beeld " sê Marilee.
Pro-Ed het sy ware kleure na vore laat kom en ons het net almal 'n hegter familie gevorm.