Rugbylegendes mentor jeug

Die Elite Sport Mentorskap-program het onlangs wysheid en bystand aan die Pro-Ed Akademie-rugbyspanne gegee. Callie Van Wyk, Mentor; “Jy kan al die kennis hê, maar as jy nie wil slaag nie gaan jy dit nie regkry nie.”
Iréne-Mari van der Walt
Iréne-Mari van der Walt – Drie Goue Leeus-legendes het onlangs ’n besoek aan Pro-Ed Akademie op Swakopmund afgelê as deel van die Elite Sport Mentorskap-program.

Danie van Schalkwyk, Jannie de Beer en Callie van Wyk het hul kennis met die skool se rugbyspanne gedeel.

“Daar is ’n groot behoefte veral aan die kus aan afrigters en om hulle die ‘skietgoed’ te gee om spanne af te rig,” sê Van Schalkwyk, een van die mentors.

“Meeste afrigters op hoërskoolvlak is ouers wat voltyds werk en deeltyds uithelp met afrigting. Hulle het net soveel leiding soos die kinders nodig en daarom is hierdie ’n geleentheid vir die afrigters sowel as die spelers,” sê hy.

Van Schalkwyk meen dit is nodig om die jeug gedurende Covid-19 op die veld te kry.

“Nou met Covid-19 trek almal terug en ons kinders is nie meer so sosiaal nie. Daarom dink ek dit is belangrik dat ons hierdie kinders die geleentheid gee om veilig bymekaar te kom en te speel,” sê hy.

De Beer meen daar was reeds voor die pandemie behoefte daaraan.

“Ek verlang na die dae toe kinders net gespeel het. Deesdae gebeur alles agter geslote deure,” sê hy.

De Beer waarsku dat druk van ouers ook sport onder die jeug beïnvloed.

“Ek ondervind dat die ouers wat die hardste skree oor die algemeen hul drome deur hul kinders wil uitleef,” sê hy.

Hy meen die Elite Sport Mentorskap-program kan juis ook die jeug mentor om die druk van ouers, afrigters en hulself te hanteer.

“Daar gaan druk wees, maar ons rig hulle nie vir ‘n wêreldbekertoernooi af nie, ons wil net hê hulle moet op die veld kom en speel.”

Van Schalkwyk glo druk hoef nie altyd ’n negatiewe ervaring te wees nie.

“Druk is ook goed as kinders die regte ondersteuningstelsel het. Ons wil hulle in ’n veilige omgewing leer hoe om daarmee te kan saamleef,” sê hy.

De Beer sê deursettingsvermoë is belangrik.

“Uit 25 probeerslae sal jy dit miskien een keer reg kry. Ek wil vir hulle leer dat jy net moet doen wat jy kan doen. Baie jongmense het ’n vrees vir mislukking, maar as jy misluk, moet jy net weer probeer. Die vrees vir mislukking gaan nie jongmense op die lewe voorberei nie.”

Van Wyk het die Pro-Ed Akademie se skrums tydens die kliniek afgerig en stem saam die jeug is hul eie grootste struikelblok.

“Jy kan al die kennis hê, maar as jy nie wil slaag nie gaan jy dit nie regkry nie. Dit gaan oor wat jy doen met wat tot jou beskikking is,” sê hy.