Sjef-tasties

Jong sjefs het weer eens beïndruk met hul vaardighede tydens NamChefs se skolekompetisie wat op 5 en 6 September in Windhoek gehou is.
Mariselle Stofberg
Yolanda Nel

Die wenners van vanjaar se Skolesjef van die Jaar-kompetisie wat verlede week plaasgevind het, is Olajumoke Lenntich van die Waldorf-skool in die afdeling vir individuele, en Laurika Burger en Kaylen Kuhn van Moria Privaatskool in die spanafdeling.

Die kompetisie het bestaan uit twee afdelings. In die individuele kompetisie het sewe jong sjefs meegeding en in die spanafdeling het drie spanne mekaar die stryd aangesê. Vivaldo Coangelo van Windhoek Hoërskool het tweede geëindig en Thomas Blaauw van die Purple Fig Bistro in Windhoek het derde geëindig met puik vertonings tydens vanjaar se kompetisie.

Mia en Christiaan de Sousa van Moria Privaatskool het tweede gekom in die spanafdeling, met Salomie Uys en Nika van Zyl van Windhoek Afrikaanse Privaatskool in die derde plek.

Volgens me. Sanet Prinsloo, ‘n lid van NamChefs, is dit belangrik dat kinders aan kosmaak blootgestel te word: “Ons gaan almal vir altyd eet en as iemand van ’n jong ouderdom af leer kook en kan toor met geure, dan is dit ’n stap in die regte rigting.”

Prinsloo het gesê die deure is oop vir sjefs en beroepsmoontlikhede is soveel meer. “As jy’n passie vir kosmaak het, is die wêreld aan jou voete. Niks hoef jou hier te hou nie. Dalk jy is die volgende Jan van Namibië.”

Prinsloo het gesê sy is opgewonde oor die belangstelling in die kompetisie. “Nie een van hierdie kinders word geforseer om hier te wees nie.” Volgens haar neem een van die deelnemers al vir vier jaar deel.

Vanjaar moes die skoliere ’n Franse uiesop as voorgereg bedien, met hoenderdye, ’n aartappelgereg en twee groentegeregte as hoofgereg. Vir nagereg was gevulde pannekoek op die spyskaart.

Verskeie pryse was vanjaar op die spel. Lenntich het met ’n sjefbaadjie van Cymot, opleiding by die Hilton Hotel, en geskenkbewyse van onderskeidelik Checkers, ter waarde van N$1 000, en Windhoek Stationers, ter waarde van N$400, weggestap.

Die standaard van vanjaar se kompetisie was besonders hoog en deelnemers het hulle uitstekend van hul taak gekwyt.