Verwerf kwalifikasies in Afrikaans

Akademia beoog om 'n leiding­gewende ­verskaffer van hoëronderwys­kwalifikasies te wees.
ELIZABETH JOSEPH
Mariselle Stofberg



Akademia is 'n privaat hoër­onderwysinstelling en bied aan individue die geleentheid om 'n kwalifikasie te verwerf met behulp van interaktiewe nauurse klasse in Afrikaans by studie­sentrums oraloor Suid-Afrika en selfs nou ook in Namibië.

Een van die instelling se studentesentrums is in Windhoek, wat aan Namibiërs die geleentheid bied om 'n diploma, sertifikaat of graad te verwerf.

Mnr. Paul Vogel, ­bedryfsbestuurder van Akademia, sê die uitbreiding na Namibië is 'n groot mylpaal vir dié instelling. “Nou kan ons vir nóg meer studente 'n beter toekoms skep deur nie net hoëgehalte-onderrig te bied nie, maar ook by te dra tot hul vorming as mens en hul betrokkenheid in hul gemeenskap.”

Die Namibiese sentrum het op 10 Februarie 2018 amptelik sy deure in Windhoek oopgemaak.

Tydens die inligtingsessie wat Akademia aan voornemende Namibiese studente op 23 November vanjaar gebied het, het die instansie reeds groot groei ervaar met die hoeveelheid individue wat die geleentheid bygewoon het. “Ons is baie opgewonde, want ek dink Namibië raak nou meer bewus van ons en besef wat ons vir hul kan bied. Ek is opgewonde vir wat voorlê vir ons,” sê me. Chrisna O'Kennedy van Akademia. Sy is die studenteraadgewer by die studiesentrum in Windhoek.

Akademia beoog om 'n leiding­gewende verskaffer van hoëronderwyskwalifikasies te wees.

Wat Akademia van ander instansies onderskei, is die gebruik van moderne tegnologiese stelsels vir leergeleenthede en ondersteuning aan studente.

“Ons model is van so aard dat dit gerieflik is vir werkende mense wat nauurs wil studeer. Ons onderrigmodel kombineer afstandsleer met 'n klaservaring. Akademia maak gebruik van gevorderde ­tegnologie om klasse vanuit die ateljee in ­Centurion in Suid-Afrika regstreeks uit te saai na 13 studiesentrums. Die model is ten volle interaktief en studente kan aan medestudente in ander sentrums vrae vra of deelneem aan 'n gesprek,” sê O'Kennedy.

Elke studiesentrum is met moderne videokonferensie-tegnologie en gratis internettoegang toegerus waarmee studente toegang tot Akademia se digitale leerruimte, die Spens, kan verkry. Die interaktiewe aard van die kontaksessies bied aan studente 'n uitstekende afstandsleerervaring, aangesien dit voel asof jy werklik deel van die sessie en nie net 'n toeskouer is nie.

Tydens kontaksessies kan studente die dosent se klasnotas of berekeninge op 'n groot skerm sien en op 'n tweede skerm word die dosent lewensgroot vertoon. Studente kan aan die klasgesprek deelneem deur eenvoudig 'n hand op te steek en 'n vraag te vra. Sagteware bring outomaties so 'n student na die voorgrond van die ­videovoer in ander sessies. Op 'n soortgelyke wyse kan die dosent vrae aan enige student in enige van die studiesentrums rig en word die ­bespreking regstreeks oor studiesentrums heen gedeel en ervaar. Na afloop van klaskontaksessies word die opnames geredigeer en binne enkele dae op Akademia se digitale leerruimte vir ­studente be­skikbaar gemaak. Hier kan studente video-opnames van die kontak­sessie aflaai, argiefmateriaal ­bestudeer, of selfs net die klankbaan op hul selfone laai om later weer as 'n klank­uitsending te luister.

Akademia bied 'n nauurse rooster en 'n blokrooster. Nuwe studente by Akademia word outomaties op die nauurse rooster geplaas. Deur 'n maklike aansoekproses te voltooi, kan studente vir die blokrooster oorweeg word, mits hulle aan die bepalings en voorwaardes vir die blokrooster voldoen.



Blokroosters

Die instelling het onlangs die blokstelsel bekend gestel. Dit maak dit moontlik vir studente wat meer as 100 km van die naaste studente­sentrum geleë is, om aansoek te doen om te kwalifiseer vir die ­blokroosters. Hierdie studente kan gevolglik vier kontaksessies kies wat hulle dan kan bywoon.



Finansiering

Solidariteit se Helpende Hand ­Studiefondssentrum bied ook aan individue die kans om aansoek te doen om rentevrye studielenings wat eers betaalbaar is wanneer die studente afstudeer het.

Akademia se aansoeke vind eksklusief aanlyn plaas, en kan op die instansie se webblad gevind word. Aansoeke kan binne 20 minute voltooi word. Vir jou aansoek benodig jy 'n gesertifiseerde matrieksertifikaat of jou mees onlangse ­matriekpunte, 'n gesertifiseerde identiteitsdokument, jou curriculum vitae en enige vorige naskoolse kwalifikasie (in die geval van mense ouer as 19).

Vir meer inligting besoek www.akademia.ac.za of kontak O'Kennedy by 081 625 0167.