VOORTREKKERS STAP,WANT ONS KAN!!

Chanelle Riekert
Tydens die week van 20 - 27 Augustus 2017 het vier van Pro-Ed Akademie se Voortrekker Verkenners naamlik, Chanelle Riekert, Anneke Burger, Andrea Leff en Alyssa van Zijl die Visrivier Canyon saam met ander Voortrekkers van regoor Namibië aangepak vir ‘n avontuur van ‘n leeftyd. Ons het om 07:00 Sondagoggend vanaf Swakopmund vertrek en tot in Windhoek gery waar ons nog Verkenners opgelaai het en verder gery het tot in Keetmanshoop waar ons die eerste aand in die koshuis oornag het.
Die volgende oggend het ons tot by die uitkykpunt van die Visrivier gery en ons pad in die Visrivier af stadig en met groot versigtigheid aangepak. Dit is ‘n baie steil pad af van 1 km in hoogte en dit het ons 6 ure geneem om af te sak. Die beloning van ‘n lekker koue swem daarna was definitief die moeite werd. Ons was ‘n groot groep van 32 mense en het besluit om in 3 kleiner groepe op te deel.
Op dag twee het ons vroeg opgestaan, ontbyt geëet (wat ons natuurlik self moes maak) en ons eerste moeilike 14 km oor klippe en dik sand gestap. Dit was vir ons almal nuut en ons het maar swaar gekry. Die volgende dag het ons by ‘n warmwaterbron uitgekom waar ons almal weer lekker kon swem en ‘n bietjie “bad” en het daarna weer die lang pad van 20 km aangedurf. Persoonlik was dit vir my ‘n groot uitdaging, maar ons almal het dit gemaak - en wat ‘n avontuur was dit nie!
Ons het ook saam met die toer ‘n Waarde-kenteken gedoen waar ons elke aand om ‘n vuur gesit het met ‘n lekker warm koppie koffie in die hand en oor al ons verskillende waardes gepraat het.
Dag vier moes ons weer 20km stap – gelukkig het ons toe darem al bietjie gewoond geraak aan die blase op ons voete. Die water het ook begin skaars raak op dag vyf en nog 20 km verder wou ons net ‘n koue koeldrank hê om te drink. Op ons tweede laaste dag het ons ‘n tragedie beleef toe een van die ander groep se ouer toeriste oorlede is weens sonsteek en ontwatering. Dit was dus baie belangrik dat ons heeldag genoeg water moes inneem.
Ons laaste dag het ons net 6km gestap en 09:00 by ons eindbestemming Ais Ais aangekom waar ons lekker koue koeldrank gedrink het en ons swaar sakke kon afpak. Ons was almal baie opgewonde, want ons het ‘n groot doelwit bereik. Later het ons toebroodjies gekry en verder die hele dag in die warm swembad deurgebring en het net lekker ontspan. Die laaste aand het ons lekker uitgeëet en die volgende oggend na ontbyt die lang pad van 12 ure aangepak terug Swakopmund toe.
Die Visrivier staptoer was ‘n groot ervaring wat ons altyd sal onthou en sal koester. Ons het die staptoer baie geniet, baie nuwe dinge geleer, soos uithouvermoë asook baie nuwe vriende gemaak. Ons wil vir tannie Mildred van Wyk en oom Hennie van Zijl baie dankie sê dat hulle die staptoer vir ons moontlik gemaak het en dit saam met ons geniet het.