Vyf fases van die lewe ná skool

Tunohole Mungoba
Lyrissa Tap



Wanneer mens in graad 12 kom, dink jy aan twee goed: om klaar te maak en om deur te kom.

Maar wat gebeur as jy dié twee ideale bereik het?

Wel, kom ons sê dis soortgelyk aan die vyf fases van die rou­proses, behalwe dis die vyf fases ná matriek.

Dit begin met ontkenning en skok, en dan die onderhandeling met jouself – wat as jy dit op 'n ander manier kon aanpak of ervaar?

Die feit dat mens nie meer 'n skoolleerling is nie, kan hard tref. Vir die meeste graad 12's is die besef dat jy nie meer 'n kind in ma en pa se huis is nie, maar dat jy moet studeer en werk kry, vreesaanjaend.

Die laaste fase vind plaas wanneer jy die werklikheid aanvaar en jouself vir die grootmenswêreld gereed maak.

Dit maak nie saak of jy 'n kind was wat jou hele lewe daarop voorbereid was nie, en of jy erg bang is vir daai nuwe hoofstuk nie, almal ervaar dié vyf fases.Dit is soos 'n skakelaar wat in elke graad 12 se kop afgaan sodra jy die skoolgronde ná jou laaste eksamen verlaat.

Jy dink dalk jy's gereed vir die lewe ná skool, maar mens is nooit gereed vir daai skok nie.

Dit is soos om 'n boek klaar te lees en 'n totale nuwe een oop te maak sonder om te weet wat binne-in staan.

Sommige van ons vlieg deur die vyf fases, en ander vat hul tyd om daardeur te werk.

Die belangrikste is dat jy nie moet kop verloor nie.

Weet net dit is normaal – al voel dit nie so nie. Dit is nie speletjies nie.

Om die oorgang van 'n veilige plek na die grootmenswêreld te maak, is nie maklik nie.

Almal was al daar, en almal was bang – bang hulle het nie die regte besluite geneem nie of dat hul punte hulle nêrens gaan bring nie.

Die beste manier om dié fase in jou lewe aan te pak, is om positief te bly.

Praat met mense, of dit nou ouers of vriende is, die kommunikasie en aanmoediging help jou om optimisties te bly.

En onthou, die grootmenswêreld is dalk skrikwekkend, maar daar is baie avonture wat voorlê.