Windhoek Gimnasium leerlinge spog op die verhoog

William Titus en Marco Kooitjie is twee leerlinge van Windhoek Gimnasium wat tot die top-80 van die Nasionale Toneelkompetisie in Suid-Afrika verkies is.
ELIZABETH JOSEPH
Yolanda Nel en Mariselle Stofberg

Die kompetisie word deur Hoërskool Belville in Suid-Afrika aangebied en deur kykNET geborg. Hoërskoolleerlinge kry die geleentheid om hul talente ten toon te stel in hierdie opwindende toneelkompetisie.

Volgens Simone Martins-Hart, die kultuurdepartemensthoof van Windhoek Gimnasium, kon die leerlinge hul stukke in Afrikaans of Engels aanbied. “Skole van regoor Suid-Afrika het ingeskryf, met Windhoek Gimnasium wat die enigste Namibiese skool is wat deelgeneem het.”

Die eerste rondte is deur die Engels- en Afrikaanseonderwysers opgeneem en aan die organiseerders gestuur. Vanjaar is die eerste keer dat opgeneemde inskrywings aanvaar word omdat dit nie ekonomies volhoubaar vir die beoordelaars is om so ver te reis om elke deelnemer te beoordeel nie.

Titus is gekies vir die Engelse program en Kooitjie vir sy Afrikaanse inskrywing. “Hulle moes ’n gedig of prosa van hul keuse opvoer,” het Martins-Hart gesê. Beide stukke moes maksimum ses minute lank wees.

Vir Titus is toneelspel nog altyd ? passie en voel hy nog oorweldig deur die prestasies. “Dit voel nog so onwerklik om aan hierdie geleentheid te kan deelneem. Toneelspel is nog altyd ? droom van my en hierdie kompetisie help my om my drome na te leef.”

Kooitjie skryf sy sukses aan sy ondersteuningsnetwerk en deursettingsvermoë toe. “As jy in jouself glo en jy mense om jou het wat jou ondersteun en in jou glo, kan jy enige iets bereik. Hierdie geleentheid is ongelooflik en ek kan nie eintlik glo ek is deur nie. Die dag van die opname was ek so bang dat ek nie die woorde gaan onthou nie, maar met die hulp van ? wonderlike afrigter het ek dit gemaak tot waar ek vandag is,” sê Kooitjie.

Die twee leerlinge is deur Me. Magdaleen van Zyl, ? onderwyser van Windhoek Gimnasium, afgerig. “Ek is baie trots op hulle. Omdat dit die eerste keer is dat ’n Namibiese skool deelneem, is ’n mens nie heeltemal in voeling met hoe die standaard is en presies wat van jou verwag word nie. Beide hierdie seuns is natuurlik baie talentvol en ek dink dit is wat die deurslag gegee het.”

Die volgende rondte vind plaas van 2 tot 4 Mei by die Artscape Teater in Kaapstad waar die leerlinge ’n vyf minute-uittreksel van ’n drama tesame met ’n gedig of prosa van maksimum ses minute moet aanbied. Tydens die derde rondte sal 16 leerlinge gekies word om ’n onvoorbereide radio- en televisieopvoering te doen. “Die leerlinge sal eers die dag voor die tyd uitvind of hulle deurgaan na die volgende rondte, dus moet die voorbereidings vooraf gedoen word. Ons is reeds besig met albei van hulle se voorbereidings vir die volgende rondtes,” sê Van Zyl.

Die finale rondte sal bestaan uit agt leerlinge wat elkeen ’n diverse program moet aanbied wat ook kontrasterend in die aanbieding is. Die program gaan volgens ’n bepaalde tema beplan word wat onder meer digkuns, prosa, toneel, sang, mimiek en deurlopende kommentaar sal insluit. Elke program mag ’n maksimum van 12 minute lank wees.

Van Zyl is van mening dat hierdie geleentheid verskei voordele vir beide seuns sal inhou. “Ek dink dis goed dat kinders so vroeg as moontlik bloot gestel word. Dit help om die leerlinge touwys te maak met so veel as moontlik aspekte van die bedryf. Die film- en teaterbedryf is soms ’n harde wêreld en dis goed dat leerders blootstelling kry om ’n ingeligte besluit te kan neem of dit werklik die loopbaan is wat hulle wil volg.”