Hassan, Tebogo pronk as die wêreld se topatlete

Atletiek
Die uitslae van atlete by die 2024 Olimpiese Spele in Parys, Frankryk, en die 2024 onder 20-Wereldkampioenskap in Lima, Peru, het swaar in die guns by die aanwys van Wêreldatletiek se atlete van die jaar geweeg.
Tielman Van Lill
Die Olimpiese vroue- en manskampioene, Sifan Hassan en Letsile Tebogo, is Sondagaand by die 2024 Wêreldatletiek-toekennings in Monaco as wêreldatlete van die jaar aangewys.

Ná ’n stemproses deur ondersteuners voor die toekenningsaand, het Hassan en Tebogo die regmerkie as die wêreld se topvroue- en -mansatleet gekry.

Hassan en Tebogo was ook deel van die ses atlete in drie kategorieë wat vir hul prestasies op die baan, veld en buite ’n stadion bekroon is.

Tebogo is as mansbaanatleet van die jaar gekroon, met Sydney McLaughlin-Levrone wat die vroue-eerbewys ontvang het. Die Olimpiese vroue- en mansmarathonkampioene Hassan (2 uur 22 minute 55 sekondes) en Tamirat Tola (2:06:26) was onderskeidelik vir hul prestasie buite ’n stadion vergoed.

Mondo Duplantis en Yaroslava Mahuchikh is as die topveldatlete van die jaar aangewys.

Vanjaar se opkomende vroue- en mansterre is ook gevier. Sembo Almayew (vroue) en Mattia Furlani (mans) het dié toekennings ontvang.



Wêreldatlete van die jaar: Hassan van Nederland (vrouewenner van die Olimpiese marathon) en Letsile Tebogo van Botswana (manswenner van Olimpiese 200 meter in 19.46 sekondes).

Beste vrouebaanatleet: Sydney McLaughlin-Levrone van die Verenigde State van Amerika (Olimpiese 400 m-hekkieskampioen 50.37 s en wêreldrekord).

Beste mansbaanatleet: Letsile Tebogo.

Beste vroueveldatleet: Yaroslava Mahuchikh van die Oekraïne (Olimpiese hoogspringkampioen 2.00 meter en wêreldrekord 2.10 m).

Beste mansveldatleet: Mondo Duplantis van Swede (Olimpiese paalspringkampioen asook Olimpiese rekord 6.25 meter en Wêreldrekord 6.26 m).

Vroue-marathon (buite stadion): Sifan Hassan.

Mans-marathon (buite stadion): Tamirat Tola van Ethiopië.

Die opkomende vroue- en mansterre is onderskeidelik Sembo Almayew van Ethiopië (3 000 m-hindernis) en Mattia Furlani van Italië (verspring).

Sembo Almayew (19) en Mattia Furlani het nie net groot dinge as o.20-atlete in 2024 behaal nie, hulle het ook albei sukses op die senior verhoog verseker.

Almayew het vyfde (9 minute 00.83 sekondes) by die Olimpiese Spele in die finaal van die 3 000 m-vrouehindernis geëindig. In Lima het sy die o.20-wêreldtitel in 9:12.71 gewen en in die proses ’n o.20-wêreldrekord opgestel.

Met dié oorwinning in Lima het sy die eerste o.20-Ethiopiese 3 000 m-vrouehinderniswêreldkampioen geword.

Furlani (19) het in Februarie vanjaar op ’n hoë noot in Ancona by die senior Italiaanse binnenshuise kampioenskap met 8.34 m en goud vasgetrap. In Glasgow by die senior Wêreldbinnenshuise kampioenskap raap hy silwer met 8.22 m op. By die senior Europese kampioenskap behaal hy sy o.20-wêreldrekord (8.38 m) vir silwer.

Sy wêreldrekord verbeter Sergey Morgunov van Rusland se vorige o.20-wêreldrekord (8.35 m in 2012) met drie sentimeter.

Sy Olimpiese afstand van 8.34 m het brons aan hom besorg.

In Glasgow op die ouderdom van 19 jaar en 24 dae het hy die jongste atleet ooit geword wat ’n senior wêreldbinnenshuise medalje in drie- of verspring gewen het. – tielman@nsh.com.na