Namibiërs sluit toernooi met sege af

Krieket
Tielman Van Lill
Gillmer Horn was die afgelope week in Pretoria Namibië se toplopiemaker, terwyl Kobus Engelbrecht die meeste paaltjies vir sy span laat kantel het.

Die nasionale onder 13-seunskrieketspan van Krieket Namibië het vandeesweek sy deelname aan Krieket Suid-Afrika se o.13-streekweek in Pretoria met ‘n puik oorwining afgerond.

Namibië (164 lopies vir die verlies van 4 paaltjies in 20 boulbeurte) klop die Eastern Reds (113/7 in 20) met 51 lopies.

Namibië se openingskolwer, Gillmer, het ‘n briljante kolfvertoning van 89 lopies saam met JW Junius gelewer. Gillmer se pragbeurt het van 59 balle gekom wat 12 viere en een ses insluit.

JW wat saam met Gillmer Namibië se kolfbeurt geopen het, was self vuurwarm. Sy 56 lopies het hy van 50 aflewerings behaal wat nege viere insluit.

Die Namibiese kolwers het 25 balle na die grenstou gejaag (23x4, 2x6), terwyl die Namibiese boulers die Eastern-kolwers tot 15 grenshoue (15x4) met uitstekende boulwerk beperk het.

Daar was geen top-individuele vertonings deur die Namibiese boulaanval gelewer waar ‘n enkele bouler drie of vier paaltjies laat val het nie. Die boulers het eerder as ‘n eenheid met gedissiplineerde boulwerk hul teenstanders oorrompel.

Jacobus Boltman (1 paaltjie vir 10 lopies in 3 boulbeurte) was Namibië se mees ekonomiese bouler teen ‘n skrale 3.3 lopies per boulbeurt.

Natie la Cock (1/18 in 4) en Joss Zondagh (1/9 in 2) het beide onder vyf lopies (4.5) per boulbeurt afgestaan. Hulle word gevolg deur Christian Potgieter (1/20 in 4), Piet Boltman (1/16 in 2) en Kobus Engelbrecht (1/19 in 2).

In die vier kragmetings het Namibië 553 lopies vir die verlies van 30 paaltjies in 127.2 boulbeurte aangeteken en 61 grenshoue (56x4, 5x6) na die grenstou gestuur.



So het die span gevaar

Totale lopies van kolwers:

Gillmer Horn (190 lopies, 4 kolfbeurte),

JW Junius (125, 4),

Wiseman Dangarembizi (40, 4),

Michael Hangula (30, 3),

Natie la Cock (24, 4),

De Witt Bergh (23, 4),

Tiaan du Plessis (16, 2),

Christian Potgieter (9, 2),

Daniel Fourie (9, 3),

Joss Zondagh (6, 2),

Jacobus Boltman (4, 3),

Kobus Engelbrecht (2, 2).



Boulers se totale paaltjies:

Kobus Engelbrect (4 paaltjies vir 81 lopies in 10 boulbeurte, ekonomie 8.1 lopies per boulbeurt, 3 wedstryde),

Piet Boltman (3/60 in 14, ekon. 4.28, 4),

Tiaan du Plessis (3/51 in 11, ekon. 4.63, 3),

Christian Potgieter (3/74 in 15, ekon. 4.93, 4),

Natie la Cock (2/78 in 22, ekon. 3.54, 4),

Michael Hangula (2/18 in 5, ekon. 3.6, 2),

Joss Zondagh (2/70 in 15, ekon. 4.66, 4),

JW Junius (2/106 in 14, ekon. 7.57, 4),

Jacobus Boltman (1/66 in 13, ekon. 5.07, 3).



Die o.13-span het Woensdag vanaf Johannesburg na Windhoek vertrek.

Terwyl die o.13-span teruggekeer het, het Krieket Namibië se nasionale o.15-span na Suid-Afrika vertrek.

Die o.15-span sal van 4 tot 8 Desember in Benoni, Gauteng, aan vier eendagwedstryde (50 boulbeurte) deelneem. Hulle keer weer op 9 Desember huiswaarts. – tielman@nsh.com.na