Pumas wys huiswerk nog nodig voor Italië-toets

Rugby
Die SA Beker-reeks se kampioene het die Namibiërs gedwing om hul spelpeil op te skerp.
Andrew Poolman
Die Welwitschias het met rukke en stote belofte gewys in hul vriendskaplike nederlaag met 19-59 teen die Airlink Pumas, maar het steeds baie huiswerk om te doen.

Die besoekers van Mpumalanga, die onoorwonne kampioenspan van die 205 SA Beker-reeks, het hul professionalisme opnuut uitgestal teen ‘n gemengde Namibiese kombinasie van plaaslike amateurspelers en buitelandse beroepspelers wat op die naderende internasionale toetsseisoen voorberei.

Jacques Burger en sy mede-afrigters sou heelwat bruikbare ontleding kon doen uit die blootstelling teen een van Suid-Afrika se toonaangewende provinsiale unies. Vir die Pumas was dié soort eindtelling tipies van die verskille wat hulle in die SA Beker-reeks uitgedeel het.

Namibië is ‘n buiteperd vir komende Vrydagmiddag (afskoptyd 15:00) se toets teen Italië in die Hage Geingob-stadion. Hierna sal die fokus ten volle verskuif na die Afrika-bekertoernooi in Juliemaand in Uganda, wat die vasteland se kwalifiseerder vir die 2027 Wêreldbeker in Australië sal bepaal.

“Die tempo was hoog en dit was ‘n fisieke stryd – presies wat ons voor die Afrikabeker nodig het,” het die Welwitschias-kaptein Prince !Gaoseb agterna gesê.

“Ons verdediging was vir redelike tye stewig teen die voortdurende Pumas-aanvalle, maar ons sal beslis ‘n ontleding doen van tegniese aspekte waarop ons kan verbeter.”



Die verloop

Die Pumas was deurentyd in beheer op die telbord en het rustyd met 26-14 voorgeloop.

Hoogtepunte vir die Namibiese ondersteuners was die drie drieë deur hul span, waarvan die eerste ná 19 minute met ‘n vinnige lynstaaningooi van vleuel Jurgen Meyer na heelagter Cliven Loubser begin het. ‘n Paar fases later, ná kraglopies deur die losvoorspelers Adriaan Booyse, !Gaoseb en Max Katjijeko, is die Pumas-verdediging sodanig gemanipuleer dat die einste Meyer vir Loubser in spasie op ‘n lopie van nagenoeg 25 meter kon wegstuur sonder dat ‘n hand op hom gelê is.

‘n Solobreekslag deur losskakel André van der Berg deur die middelveld vier minute later het sy skakelmaat Jacques Theron aan die binnekant gevind, wat linkervleuel Quirione Majiedt in besit gestel het. Hy is gekeer, maar ná ‘n strafskop en lynstaan het senter Danco Burger ‘n kort aangee ontvang om tussen die Pumas deur te sny en naby die pale te gaan oorduik.

Die Pumas, met die grondslag van hul geharde pak voorspelers en ‘n ingeoefende intense speltempo, het egter in die eerste helfte reeds drieë vir flank André Fouché (lynstaandryf), senter Jay-Cee Nel, skrumskakel Ross Braude en regtervleuel Lundi Msenge geskep, waarvan losskakel Danrich Visagie drie verdoel en een keer die paal getref het.

Terwyl plaasvervangers in die tweede helfte hul kans gekry het om in te skakel, het die Pumas nog vier drieë bygevoeg, naamlik deur linkervleuel Darren Adonis, plaasvervanger-haker Darnell Osuagwu, kaptein en flank Willie Engelbrecht asook Jay-Cee Nel se tweede.

‘n Troosdrie vir die Welwitschias was die onderskepping deur die plaasvervanger-agterspeler Godwin Silvanus wat van bykans sy eie doellyn deurgenael het om in die oorkantste hoek te gaan oorduik. André van der Berg het die vorige twee drieë verdoel, maar dié een was mis.

Cliven Loubser het die veld ná 47 minute verlaat ná ‘n harde hou toe hy en die Pumas-vleuel Darren Adonis beide in die lug gespring het om vir ‘n hoë bal mee te ding.

Skeidsregter Johre Botha het ná 69 minute die Welwitschias se slot Johan Luttig koelkas toe gestuur vir ‘n gevaarlike kontak toe hy by ‘n losskrum ingestorm het.

Die Pumas bevind hulle ook in ‘n voorseisoen vir die Curriebeker wat vir hulle op 25 Julie met ‘n tuiswedstryd in Nelspruit teen Griekwas afskop. Afrigter Jimmy Stonehouse se manne speel komende naweek teen Uganda.