Samoa skakel Namibië uit in 2027-wedloop
Rugby
Namibië se uitskakeling in die wedloop om kwalifisering vir die 2027 Wêreldbeker-rugbytoernooi sal van sy besluitnemers ernstige nabetragting verg.Terwyl Namibië bloot toeskouers van die 2027-toernooi in Australië sal wees, sal ‘n beduidende verwisseling in generasies oor die volgende jare plaasvind terwyl die visier verskuif om ‘n suksesvolle kwalfiserende veldtog vir die 2031 Wêreldbeker in die VSA van stapel te stuur.
As ‘n eerste prioriteit sal die Welwitschias onder leiding van die direkteur van rugby, Jacques Burger, en hoofafrigter Pieter Rossouw bitter graag Dinsdagmiddag hul toer na Dubai op ‘n wennoot teen Brasilië wil afsluit.
Teen die relatiewe swaargewigspan Samoa het die Namibiërs Donderdagaand vir lang tye baie goeie rekenskap gegee.
Die eilandspan se oorwinning met 26-8 (rustyd 19-0) was egter die laaste strooi wat Namibië se uitskakeling by die Finale Kwalifiserende Toernooi in Dubai bevestig het, nadat België hulle vyf dae tevore ook met 22-15 bloedneus gegee het.
Veggees teen eilanders
Met die haker en kaptein Louis van der Westhuizen deurentyd naby aan die voorpunt, het die Namibiërs vir die volle 80 minute ‘n hoë werktempo gehandhaaf.
Volgens RugbyPass se statistiek het Van der Westhuizen, die flank Prince !Gaoseb en slot Johan Retief elkeen 14 duikslae uitgevoer, gevolg deur Otja Auala (13), Johan Deysel (11), Cliven Loubser, Max Katjijeko (9) wat almal Samoa se voorloper Theo McFarland (8) oortref het. Van der Westhuizen se drie gesteelde balle was ook meer as enigiemand anders.
Samoa se oorheersing van balbesit en gebiedsvoordeel het Namibië onder druk gehou en min geleenthede kon geskep word om die flair en vaart in die agterlyn maksimaal te gebruik. Samoa het 71 duikslae uitgevoer (vyf misluk) teenoor Namibië se 151 (25 misluk).
Met lang skoppe deur skakelpaar Cliven Loubser en Helarius Kisting asook heelagter Divan Rossouw het Namibië spel tot in gunstige dele van die veld probeer manipuleer, maar Samoa was ook opgewasse hiervoor.
Loubser het ná 15 minute ‘n puik doodvat uitgevoer toe Samoa se bul-agtsteman Iakopo Mapu van ‘n vyfmeterskrum reg op hom afgestorm het, voordat Samoa drie fases later op die grond gestraf is.
André van der Berg (plaasvervanger vir Divan Rossouw) het ná 65 minute een van die min kere deur Samoa se verdedigingslyn gesny, maar die plaasvervanger-skrumskakel AJ Kearns se strewe om die bal lewendig te hou het op ‘n hanteerfout uitgeloop.
Namibië se enigste drie het wel kort daarna (69 minute) gevolg toe Van der Berg bespeur het dat Samoa se verdediging oorhoops was en ‘n rolskop in die pad van die onbewaakte buitesenter Jay-Cee Nel gestuur het.
In geheel was Samoa se aanvallende opsies en diepte van senior spelers egter ‘n groot voordeel en die eilandspan het opnuut 'n bonuspunt vir vier drieë verseker. Met kliniese oorheersing is drieë vir skrumskakel Jonathan Taumateine en vleuels Va’afauese Maliko en Latrell Ah-Kiong geskep om hul voorsprong met 19-0 op te bou.
Kiong se drie (vir 19-0 ná 26 minute) kon egter ewe maklik gekanselleer gewees het. Skeidsregter Damian Schneider van Argentinië en die TV-skeidsregter het die kykweer gebruik ná die Samoa-flank Alamanda Motuga se skouerloop in die gesig van Jay-Cee Nel tydens die opbou, maar die blaser het by sy beslissing gestaan om die drie toe te ken.
Werkvermoë
Afrigter Pieter Rossouw kon agterna nie kla oor die 80-minute vertoning van sy span nie: “Ons is baie in ons skik met die toewyding en werktempo wat die ouens vandag gewys het.
“Ons was veel meer fisiek in die kontak as teen België, en ek reken ons het die regte wedstrydplan gehad. Ons kon net nie ons besit vir lank genoeg behou om groter druk op doe aanval toe te pas nie. Maar takties is ek baie tevrede.
“Ons het ook die tweede helfte sterk afgesluit, waarmee ons ook baie tevrede is.”
Jacques Burger het ook sy trots uitgespreek op die manier hoe sy manne in die fisieke stryd teen Samoa opgestaan het.
“Hoe meer gereeld ons teen sulke opposisie meeding, hoe meer sal ons die geloof kweek dat ons met die topspanne kan kompeteer. Met tyd sal ons as ‘n groep kan groei en sterker word.”
Afgesien van senter Danco Burger (harsingskudding) en slot Tiaan de Klerk (enkel) wat teen België beseer is, het hy vertroue dat die spelersgroep van 30 genoeg opsies vir die belangrike stryd teen België inhou.
“Teen Samoa het basies net Max Katjijeko (flank) houe teen die hand en die skouer gekry. Hy het reeds baie harde werk op die toer ingesit, maar hy kan dalk reg wees om ook teen Brasilië oorweeg te word.
“Torsten van Jaarsveld (haker) voel nog sy lae rug en sal dalk nie betyds reg wees nie en ons kyk ook na Armand Combrinck se skouer.
“Brasilië bring ook krag en inklimspel met hul voorspelers wat hard werk, wat vir hulle span baie energie verskaf. Hulle het baie amper met ‘n oorwinning teen België weggekom (27-30) en ons sal beslis moet opdaag vir die goeie vertoning wat ons wil lewer.”
Stryd om 24ste WB-posisie
Ná sewe opeenvolgende verskynings by die Wêreldbeker sedert 1999, het Namibië vir die eerste keer sedert 1994 daarin misluk om as Rugby Afrika se kwalifiseerder na vore te tree.
In stede het Zimbabwe in Juliemaand die beslissende finaal in Kampala met 30-28 teen Namibië beklink om sy eerste Wêreldbeker-reis in meer as drie dekades ‘n werklikheid te maak.
Dinsdagmiddag om 15:00 speel Namibië teen Brasilië (die eerste rugbytoets tussen dié twee lande) om die houtlepel in die toernooi vry te spring. Geen Afrika-span (Kenia, Zimbabwe óf Tunisië) kon tevore ‘n wedstryd in die repechage-fase van WB-kwalifisering wen nie.
Dinsdag om 17:30 (Namibiese tyd) sal Samoa (10 ligapunte) en België (9) egter sake uitspook om die 24ste en finale kwalifiseerder vir die 2027 Wêreldbeker in Australië te word.



Comments
My Zone
No comments have been left on this article