Sege teen Bulle XV wys wat o.20’s wil doen

Rugby
Afrigter Johan Zaayman was beïndruk met verskeie aspekte van die jongmanne se vertoning.
Andrew Poolman
Die Namibië Rugby-unie (NRU) se onder 20-oefengroep het Saterdag ‘n redelike verrassing gelewer deur ‘n opwarmwedstryd teen die Blou Bulle o.20 presidentsvyftiental met 37-24 te oorheers.

Met rustyd by Centurion-rugbyklub se veld was die spanne met 17-17 gelykop, maar die Namibiërs het uiteindelik losgetrek om vyf drieë teen drie te druk.

Drieë deur die flank John Connor Nel en regtervleuel Alejandro Morkel was die besoekers se punte vir die eerste helfte, tesame met skrumskakel SW Kuhn se twee doelskoppe en een strafdoel.

Ná rustyd het drieë deur die haastige linkervleuel Jurgen Meyer, agtsteman McHenry Kambatuku en senter Xavier Mouton gevolg, asook ‘n strafdoel en doelskop deur Maughan Jarman wat in die tweede helfte as losskakel opgestuur is.

Onder kapteinskap van die agtsteman Ben Burger het die o.20-span vroeër verlede week ook ‘n oefenwedstryd teen die Limpopo Blou Bulle rugby-instituut met 52-0 gewen.

Afrigter Johan Zaayman het agterna verklaar dat hy beïndruk is deur die jongmanne se algemene kalmte onder druk. “Die werktempo en beskerming van ons balbesit was ook baie goed en ons het ‘n paar briljante drieë gedruk.

“Ek is baie trots. Die manne wil wen, en almal wil ‘n naam maak in Namibiese rugby. Ons beheer van die bal, aggressiewe verdediging en spoed in die agterlyn het die Bulle moeg gemaak.

“Die ouens het goed gehou by ons spelpatroon en is gretig om te leer en te hou by dit wat ons wil speel. Ons sien uit na Zimbabwe; dit gaan ‘n goeie toer wees.”

Die groep van 29 spelers het reeds na Windhoek teruggekeer. Zaayman en sy mede-afrigter Jood Opperman sal Dinsdagmiddag die finale proewe hou voor die aanwysing van die finale toerspan na Zimbabwe vir die Rugby Afrika o.20 Barthes-bekertoernooi (17-27 April).

‘n Ongelukkige verwikkeling is dat die Afrika-toernooi vanjaar nie as kwalifisering vir die wenspan na die Wêreldrugby O.20 Trofee-toernooi sal dien nie omdat die wêreldbeheerliggaam na verneem word nie laasgenoemde toernooi gaan aanbied nie.

Zaayman en sy manne het nietemin ‘n appeltjie te skil nadat Zimbabwe verlede jaar in Harare, toe Allister Coetzee die Namibiese afrigter was, met 35-23 aan die wenkant was. Boonop kon die jong Namibiërs ook nie hul openingswedstryd teen Kenia wen nie (28-34; rustyd 6-23) en was uiteindelik gelukkig om redelik onoortuigend die bronsmedaljes met 26-15 teen Tunisië in te palm.

Verlede jaar se uitslae was egter deel van ‘n onrusbarende droogteperiode vir Namibië in die kontinentale o.20-toernooi, wat derde posisies in 2023 en 2024 ingesluit het. Namibië se laaste triomf was in 2018 nadat die jongspanne sedert 2012 elke jaar skoonskip gemaak het.

Die afgelope naweek het Zimbabwe se o.20’s ook hul opwarmwedstryd teen Australia Outback Barbarians met 39-33 beklink.