Skouers geskuur met Cape Epic se héél bestes
Bergfietsry
Eindelose klimdele, rekordhoë dagtemperature en op die later dae onsmaaklike koue, reën en modder ... die agtdaagse toer was opnuut 'n belewenis.
Die Absa Cape Epic bergfietstoer van 2025 het verskeie hoogtepunte vir Namibiese deelnemers opgelewer en was opnuut ‘n onvergeetlike, uitdagende belewenis.Drie spanne waarin Namibiese ryers met buitelanders gekombineer was, was ná elke dag se skof op die podium en elk van hulle het die toer in die tweede posisie in hul onderskeie kategorieë afgesluit.
Vera Looser en haar Amerikaanse spanmaat Alexis Skarda was tweede in die UCI elite vroueresies. Looser en Skarda het altesame vyf skofte in die tweede posisie voltooi. Hul totale tyd oor die 591 kilometer, met 16,350 meter se klimwerk, was 29 ure 24 minute.
Annika Langvad (Denemarke) het haar sesde Absa Cape Epic-titel ingepalm en haar spanmaat Sofia Gomez Villafana (Argentinië) haar tweede. Vanaf die eerste pedaaltrap was hierdie twee in beheer van die resies.
Langvad is nou die alleenrekordhouer met ses titels en het Karl Platt (Duitsland) en Christoph Sauser (Switserland) verbygesteek. Ewe merkwaardig is dat Langvad uit die sport getree het om ‘n moeder te word, voltyds as tandarts gewerk het. Vroeg in die toer het sy ook ‘n val opgedoen wat haar deurgaans in pyn gelaat het.
Driekamper op podium
Julika Pahl het met die Suid-Afrikaner Linda Detering saamgespan en was tweede in die ope vroueklas, met ‘n totale tyd van 35 ure 13 minute. Pahl is minder bekend in fietsrygeledere as in triathlon, waar sy tevore Namibië verteenwoordig het en onder meer die FNB Sandman se vroueresies by Swakopmund gewen het.
Frank Snyman (grootmeesters mans) het vir die eerste keer met Ralf Kropp van Duitsland gekombineer en nadat hy verlede jaar tweede in hierdie ouderdomsklas (60-plus) was, het hy ondanks beduidende uitdagings verbeter met ‘n algehele tweede eindposisie.
“Die meerderheid inskrywings in feitlik elke klas is uit Europa, selfs meer as uit Afrika-lande, wat vir ’n ware wêreldklas kompetisie sorg,” sê Snyman.
Vir Snyman was dit ’n wonderlike, onvergeetlike verrassing toe Namibië se tweemalige Olimpiese fietsryer Dan Craven hom Sondag by die sewende en laaste skof se eindstreep ingewag het om hom geluk te wens.
Die oomblikke op die podium saam met Barti Bucher, een van sy persoonlike helde van Switserland en kategoriewenner saam met Peter Vesel van Slowenië, en gespuit van sjampanjebottels sal hom ook vir die res van sy lewe bybly, sê hy.
“Dit was vir my ‘n besonder moeilike Epic en ek was bevoorreg om dit te kon voltooi. Dit sal ongelukkig ook my laaste een wees.”
Byna deur medici onttrek
Vir Snyman was dit so hittete of hy kon vroeg al deur die mediese toesighouers onttrek gewees het. Hy het reeds laas Sondag tydens die proloog gesukkel en kon nie die krag lewer waaraan hy normaalweg gewoond is nie.
“Ek het begin wonder of ek dalk die vorige dag se oefenrit te hard gery het, of dalk ‘n ongesteldheid tydens die massa ryers se registrasiebyeenkoms opgetel het.
“Die Sondagaand het ek maagprobleme ondervind en baie vog verloor, wat ná die eerste maaltyd die aand vererger het.
“Tydens Maandagoggend se skof het ek maar deurgedruk en ons het nogtans weer die podium gehaal (derde). Ek het besluit om by die hospitaal te gaan uitvind wat fout is met my. ‘n Bloedtoets het uitgewys dat ek naby aan nierversaking was, met hoë ureum- en kreatienvlakke.
“Ek is deur drie dokters ingelig dat my resiesnommer aan die organiseerders deurgegee sou word om my uit verdere deelname te onttrek. Hulle wou my in die hospitaal opneem en aan ‘n dialisemasjien koppel.
“Ek was baie ontevrede hiermee en het aangedring dat ek nie gehospitaliseer kan word nie, want ek en Ralf is op die podium en die hele oefening om die Cape Epic y te woon, kos ‘n fortuin.
“Ná lang besprekings en stryery heen en weer het de dokters my die uitweg gebied dat ek daardie aand tien liter water moes drink, saam met sakkies Rehidrat. Ek moes Dinsdagoggend sesuur weer ‘n bloedtoets doen wat sou bepaal of ek verder kon deelneem.
“’n Stresvolle nag later, met min slaap, het ek die oggend die groen lig gekry om te kon voortgaan, sonder om enige aanvullings te gebruik. Tydens die tweede skof het ek beter begin voel en ons was weer op die podium.”
Snyman en Kropp het algaande hul posisie op die algehele klassifikasie van derde tot tweede verbeter.
Swiegers (vierde) ‘bevoorreg’
Die Cape Epic was vanjaar opnuut ‘n ernstige uitdaging vir bergfietsryers van oor die wêreld heen – met eindelose klimdele, rekordhoë dagtemperature wat op die later dae deur onsmaaklike koue, reën en modder afgewissel is.
Snyman se jonger swaer Piet Swiegers het in die meestersklas (50-plus) met ‘n voormalige wêreldkampioen van Italië, Mauro Bettin, saamgespan. Nadat hulle van die vroeë skofte vyfde geplaas was, het hulle die toer in die vierde posisie afgesluit.
Swiegers sê: “Elk van die spanne voor ons was gelaai met ryers wat tevore skofte en titels in die Cape Epic gewen het – die klaswenners Robert Sim (RSA) en Udo Boelts (Duitsland), die tweede geplaaste
“Dit was ‘n absolute voorreg om as 58-jarige teen ryers van sulke wêreldgehalte te ry, soms op gelyke voet mee te ding en op sommige dae sterker as hulle te kon wys watter staal die die biltongboere van Namibië ook kan bring.
“Ek sou baie graag op die podium wou eindig, maar dit was ons nie beskore nie. Die spanne voor ons was eenvoudig beter en het hulle klas gewys. Ons waardeer almal se ondersteuning.”
– andrew@nsh.com.na
Comments
My Zone
No comments have been left on this article