Zwarte Duivels dien potensiële WB-doodskoot toe
Rugby
Namibië se kans om vir die 2027 Wêreldbeker in Australië te kwalifiseer, lyk nou eerder wiskundig as realisties nadat België en Samoa met oorwinnings op wedstryddag 1 van die repechage-toernooi in Dubai ‘n groot tree vorentoe gegee het.Namibië se nederlaag met 15-22 teen België Saterdag beteken dat geen Afrika-span in die geskiedenis nog daarin kon slaag om ‘n wedstryd teen enige van die beste verloorders van ander vastelande en wêreldstreke by die Finale Kwalifiserende Toernooi te wen nie.
Die reguitste pad na kwalifisering vir die Wêreldbeker-rugbytoernooi bly maar om as wenner van die Rugby Afrika-streek deur te dring.
Vandat Namibië in Juliemaand sy jarelange wenrekord teen Zimbabwe prysgegee het en die Sables sodoende vir die 2027-skouspel in Australië gekwalifiseer het, het die wedsyfers skerp teen die Welwitschias gedraai.
Vroeg op agtervoet
Die Belgiërs, aangevuur deur luidrugtige ondersteuning deur landgenote in The Sevens Stadium in Dubai, het hul oorwinning in 'n hewige kragmeting ten volle verdien.
Die Zwarte Duivels se spanpoging was puik georganiseerd en hulle het in elke faset uitgeblink. Elke keer wanneer Namibië tot in ‘n dreigende posisie kon vorder, het óf hardnekkige verdediging, óf 'n gesteelde lynstaan óf briljante werk by die afbreekpunte die Welwitschias gefnuik.
Die skrif was vroeg aan die muur. Met 'n akkurate afskop het die Duivels 'n fout afgedwing en besit teruggewen. Hulle het toe die bal deur verskeie fases gewerk, en na beide kante aangeval totdat vaskopstut Jean-Baptiste Declercq minder as twee minute later van naby af deurgebars het.
Trouens, België het die wedstryd sodanig beheer dat Namibië eers ná vier minute aan die bal geraak het, en dit toe boonop direk uitgeskop het. Namibië het uiteindelik ná vyf minute omkeerbesit by ‘n afbreekpunt gekry.
België se losskakel Matias Remue, ‘n gevaarlike aanvaller met hope vaardighede en propvol truuks, was briljant en het met sy flinke voetwerk die verdediging voortdurend geteister.
Namibië het 'n tydperk van druk toegepas en het hard probeer terugveg, maar 'n blitsvinnige teenaanval van die ontwykende Remue en toe 'n perfek uitgevoerde steel op die grond deur die flank en kaptein Jean-Maurice Decubber enkele meters van België se doellyn het hul voorsprong beskerm.
'n Suksesvolle strafskop van 40 meter deur Remue ná 16 minute het België se voorsprong tot 10-0 vergroot.
‘n Kans vir Namibië het ná 21 minute aangebreek, maar nadat hulle 'n lynstaan eerder as 'n skop pale toe gekies het, is die bal naby België se doellyn aangeslaan. 'n Sterk skrum het België hierna 'n strafskop laat wen om uit hul gebied te ontsnap.
Namibië het weer gekom, maar opnuut het Decubber se werk by die afbreekpunt sy span 'n strafskop besorg. Van die gevolglike lynstaan het België geduldig deur die fases gewerk totdat skrumskakel Julien Berger onder die pale oorgeduik het om dit 17-0 te maak, danksy Remue se doelskop.
Vroeg in die tweede helfte het Namibië uiteindelik met 'n strafskop deur losskakel André van der Berg op die telbord verskyn en hoewel beide spanne spelers weens geelkaarte verloor het, kon België sake beter bestuur terwyl die tyd afgetik het.
Die verlies van flanke Wian Conradie en Max Katjijeko met geel kaarte het die hoop op 'n dramatiese terugvegpoging in die wiele help ry en ondanks 'n uitstekende 50-22-skop deur heelagter Jay-Cee Nel wat kortstondig hoop gegee het, het België hul kaptein Decubber vir ‘n drie oorgewerk wat waarskynlik hul nasie se belangrikste sege in hul rugbygeskiedenis verseël het.
Twee laat drieë vir Namibië, deur senter Johan Deysel en die plaasvervanger-agtsteman Johan Luttig, het die telbord beter laat lyk en 'n verloorbonuspunt verseker, maar die dag het ten volle aan België behoort.
Foute begaan
'n Neergedrukte Namibië-hoofafrigter Pieter Rossouw het na die wedstryd gesê: "Baie teleurgesteld; ek het gevoel ons het onsself vanaand geklop.
“Ons het soveel foute gemaak en ons het 'n paar geleenthede gehad wat ons natuurlik nie gebruik het nie, maar België verdien die gelukwensings."
Die opgewonde België-afrigter Laurent Dossat het benadruk hul taak is nog net gedeeltelik afgehandel.
“Ons wou die toernooi goed begin. Selfs toe ons 17-0 voor was, was ek steeds nie seker dat ons sou wen nie, want daar was 'n baie goeie span voor ons, maar ons het aanhou veg en die ouens het moed gehou.
“Oor die algemeen is ek baie tevrede met ons spel. Baie energie, goeie ingesteldheid, maar as jy in dié toernooi verder wil vorder, moet die dissipline beter wees en ons moet minder strafskoppe afstaan.”
Donderdag
Komende Donderdag sal België volgende teen Brasilië te staan kom, terwyl Namibië dan 'n reusagtige verrassing teen Samoa sal moet behaal om hul Wêreldbeker 2027-rugbydroom enigsins lewendig te hou.
Op grond van dag 1 se vertonings lyk dit meer waarskynlik dat België en Samoa op 18 November vir die groot prys sal uitspeel, terwyl Namibië en Brasilië dan sake om die houtlepel sal moet uitspook.
Samoa, die hoogste span in die toernooi op die wêreldranglys (16de) het Brasilië met 48-10 oordonder nadat die eilandspan rustyd met 29-5 in beheer was.
Jacob Umaga (heelagter) het 18 punte vir Samoa bygedra en het sy waarde gewys nadat hy in 2021 een toets vir Engeland gespeel het, maar danksy die regulasies kon hy vanjaar na sy land van afkoms oorskakel.



Comments
My Zone
No comments have been left on this article