Jong stemme maak golwe in die uitsaaiwêreld

Red Aloe Radio
Francouis Pretorius
Die Vereniging van Uitsaai-veterane (VUV) het Dinsdag hul eerste bestaansjaar gevier, met klem op die opleiding en mentorskap van jongmense in die mediabedryf.

Een van hul grootste prestasies tot dusver was sonder twyfel die ondersteuning van Windhoek Gymnasium Privaatskool met die stigting van Red Aloe Radio, die eerste skoolradiostasie van sy soort in Afrika.

Jong omroepers Kaylin Januarie en Tyrone van Rooyen meen die projek het hulle baie geleer oor spanwerk, selfuitdrukking en die krag van ’n stem. “Ons is die eerste skool in Afrika wat so iets aanpak. Dis ongelooflik om daarvan deel te wees,” vertel Kaylin.

Haar trots is tasbaar: “Dis ’n voorreg, en ek neem dit glad nie ligtelik op nie. Daar is soveel skole wat nie hierdie kans het nie. Nou wil ons hê ander skole moet dit ook begin doen. Hierdie is net die begin!”

Vir die leerders is Red Aloe Radio veel meer as net mikrofone en draaiboeke. Dis ’n ruimte van selfontdekking, spanwerk en empatie.

“Ek het geleer hoe belangrik dit is om saam te werk. Jy kan nie net op jou eie ’n uitsending dra nie,” sê Tyrone. “Dis nie net oor wat jy sê nie, maar ook hoe jy jou stem gebruik om jou storie te vertel,” voeg hy by. “Jy kry die geleentheid om jou eie materiaal te skryf – jou woorde, jou perspektief.”

Die rol van VUV se veterane, insluitend mentor Kolie van Coller, is van onskatbare waarde. “Hulle wys vir ons dat uitsaai nie net oor praat gaan nie; dis ’n wêreld van insig, voorbereiding en passie,” sê Kaylin.

Vir enige jongmens wat hulself voor ’n mikrofoon sien, is Kaylin se raad eenvoudig maar kragtig: “Moenie bang wees nie. Jy het ’n stem – gebruik dit. Jy hoef nie ’n akteur of aktrise te wees nie. Laat jou stem skyn.”

Tyrone voeg by: “Moenie net praat nie – brul! Dis jóú storie. Dis jóú kans om gehoor te word.”

Red Aloe Radio en die VUV wys vir ons wat moontlik is wanneer generasies saamwerk en wanneer wysheid en jeug mekaar aanvul. As hierdie eerste jaar ’n voorsmakie is van wat verwag kan word, is die toekoms van uitsending in Namibië nie net helder nie – dit is lewendig!