Natuurlik, Henties se bekende baken

Leandrea Mouers
Wanneer jy Hentiesbaai besoek, moenie vergeet om dié dorp se historiese baken te besoek nie. So twee jaar gelede het die galg ’n nuwe baadjie gekry – in die vorm van ’n groot kabeljou en visstok. Die oorspronklike galg is in 1978 deur Frank Atkinson en Willie Cilliers opgerig, wat hulself as van die eerste permanente inwoners van die dorp onderskeidelik in 1969 en 1971 gevestig het. Die dryfhout met ’n stukkie tou aan die einde het gedien as ’n kennisgewing dat vakansiegangers hulle van rommelstrooi moet weerhou.

Die waarskuwing aan morsjorse het vir 42 jaar getrou op sy plek gestaan tot dit in 2020 onmin op die dorp veroorsaak het. Aktiviste het gemeen die galg is ’n simbool van ’n pynlike verlede van rasse-onderdrukking en het geëis dat dit verwyder moet word. Koppe is bymekaar gesit en die kunstenaar Chris Snyman het die opdrag gekry om die nuwe baadjie vir dié baken te skep waarmee almal tevrede was en wat ’n toeriste-aantreklikheid kan wees. Foto Leandrea Mouers