Vleis met hart by Hartland

Leandrea Mouers
As jy ’n ordentlike stuk vleis wil braai, of net lus is vir droëwors of biltong, is Hartland Hentiesbaai, by die Shell-vulstasie, die eerste en beste plek om te stop.

Stefaans Blaauw, die eienaar, vertel dat hulle voorheen bekend gestaan het as Vleisland.

“Dit was toe ek nog in Windhoek was. Ons het toe verkoop en na Hentiesbaai getrek. Ons het gesien daar is ’n behoefte aan lekker vleis teen ’n bekostigbare prys, en ons het toe vir Hartland oopgemaak. Soos die Engelsman sê, ‘re-think and re-brand’ – en dis presies wat ons gedoen het.”

Blaauw verduidelik dat hulle meer ’n deli as ’n slaghuis is.

“Ons het aas, ys, vleis, sigarette, koeldrank en al daardie goed. Ons spesialiseer in steaks soos rump, sirloin en rib-eye.

“Ons maak ook ons eie salami, droëwors, biltong en vetbees-biltong met die sagste snitte – ons maak glad nie taai biltong nie.

“Vir die manne wat van braai hou; ons maak ons eie boerewors met selfgemengde speserye – die manne weet as hulle wil braai, is dít die plek om te besoek.”

Blaauw, wat nou al meer as 30 jaar in die bedryf is, het baie kennis van die vleisbedryf en het selfs twee resepteboek geskryf.

“Ons het ’n Facebookblad begin onder die naam Vleisland se Maklike Resepte waar ons resepte gedeel het. Ná ongeveer twee jaar het die lede van die Facebookblad gevra of ek nie ’n resepteboek wil skryf nie.

“Ek het toe Vleisland se Maklike Resepte Volume 1 geskryf en daarna ook Volume 2. Ongelukkig is dit nou uitverkoop in Namibië. Dit gaan maar daaroor om die jonger generasie te inspireer.”

Dié Facebookblad is nog aan die gang en Blaauw deel steeds resepte daarop.

“Ek wil graag hê almal moet weet wat ek weet en ek deel my resepte vrylik met almal.

“Tot ek my kop neerlê, gaan ons ordentlike, lekker vleis aan die mense voorsien,” sê Blaauw.

Hy gee ook hierdie raad: “Maak jou eie goed. Dit klink moeilik in die begin, maar dit is eenvoudig en ook nogal ’n bietjie werk.

“Ons is te bederf in ons lewe. Ons gaan koop liewers iets voor ons dit self maak. Dit is lekker om jou eie goed te maak. Dit moet ’n passie word – dit is nie ‘rocket science’ nie.

“Ek wil graag die jongmense inspireer – kom leer! As jy iets wil leer, ek sal jou leer. Dis my doel – ek wil graag die jonger geslag toerus om vir hulself te kan sorg as dit by vleis kom.”

– leandrea@erongo.com.na