Erasmus klim in onder Uganda-boulers
Die FNB Eagles sal graag vandag opnuut ‘n skerp vertoning wil lewer vir nog ‘n oortuigende oorwinning teen Uganda.
Die Oos-Afrikane sluit vandag hul kriekettoer na Namibië af met die laaste van twee eendagwedstryde by die FNB Namibië Krieketstadion (vanaf 09:30).
Die Namibiërs gebruik die vriendskaplike Uganda-toer as voorbereiding vir die komende aanbieding van ‘n driehoekige toernooi in Windhoek (2-12 April) tussen die Eagles, Skotland en Oman in die ICC Wêreldbeker Liga Twee-reeks.
Maandag het Namibië die eerste eendagwedstryd teen Uganda met ‘n allemintige 173 lopies gewen.
Gerhard Erasmus het met mening onder die boulwerk ingeklim en het sewe sesse en viere geslaan voordat hy uiteindelik vir 88 lopies van 47 balle uitgevang is.
Die Namibiese kolftotaal van 303 vir agt in 50 boulbeurte is ook danksy bydrae van WP Myburgh (37 van 80 balle; 2x4), Malan Kruger (20 van 39 balle; 2x4), Jan Frylinck (44 van 49 balle; 4x4 1x6), Louren Steenkamp (30 van 33 balle (1x4 1x6) en Dylan Leicher (39 nie uit nie van 30 balle; 1x4 1x6) opgestel.
Die toekenning as speler van die wedstryd is deur die snelbouler Ruben Trumpelmann losgeslaan, wat met die nuwe bal vier paaltjies vir 27 lopies in agt boulbeurte ingeryg het (ekonomie 3.38).
Max Heingo (2/28 in 6 bb) en draaibouler Bernard Scholtz (3/11 in 4.2) het ook toegeslaan terwyl Uganda vir net 130 uitgeboul is.



Comments
My Zone
No comments have been left on this article