Kolwer-broers die sterre in Italië se eerste WB-wensmaak

Krieket
Die Europese debutante wat vir die eerste keer gekwalifiseer het, het gister 'n wegholsege teen Nepal behaal.
Sportredaksie

Italië het sy aansien as ‘n potensiële gevaarspan gestand gedoen deur gister sy eerste oorwinning by die T20 Wêreldbeker in Indië te behaal.

Italië (124/0) het Nepal (123 almal uit) met tien paaltjies oorrompel, met 44 balle van hul kolfbeurt oor.

Voor ‘n skare in Moembai wat feitlik uitsluitlik vir Nepal ondersteun het, was Italië se kolfhelde die broerpaar Justin Mosca (60 nie uit nie) en Anthony Mosca (62 nie uit nie), wat saam in Sydney grootgeword het.

Nadat Nepal in hul openingswedstryd met net vier lopies teen Engeland verloor het, is hulle as die gunsteling beskou. Die Asiatiese span het egter gesukkel om aan die gang te kom teen die Italiaanse draaibalkombinasie van Crishan Kalugamage (speler van die wedstryd met 3/18), Ben Manenti (2/9) en die gewese Suid-Afrikaner JJ Smuts (1/22), wat gesamentlik 6/49 in hul twaalf boulbeurte geneem het.

Die Italianers het Maandag hul WB-debuutwedstryd teen Skotland met 73 lopies verloor in hul jaagtog na ‘n teiken van 208. Voor die toernooi het hulle ook 'n opwarmwedstryd teen die Namibiese FNB Eagles in Dubai gewen.

In Groep C het gister se uitslag vir Engeland na die vierde plek laat afskuif, met Italië derde ná Wes-Indië en Skotland. Die Engelse het reeds een wedstryd teen Wes-Indië verloor.

• In gister se vroeër wedstryd in Pallekele het die tuisspan Sri Lanka (225/5) met 105 lopies teen Oman (120/9) gewen.