Waldo Smith staan uit in eendagreeks
Drie kompeterende eendagwedstryde tussen die Engelse toerspan Warwickshire en ‘n Namibiese Akademiespan is vandeesweek met twee teen een deur die toerspan gewen – maar nie sonder goeie mededinging, spanning en intrige nie.
Die twee spanne begin speel môre in ‘n tweedagwedstryd, ook by die HP Ovaal in Olympia, vanaf 09:00.
Die eendagreeks het soos volg verloop:
Wedstryd 1, Saterdag
Die gasheerspan wen die loot by die HP Ovaal en stuur die Engelse in om eerste te kolf.
Warwickshire (254/9) klop die Namibiese Akademiespan (239 almal uit in 49.0 boulbeurte) met 15 lopies.
Will James (Warwickshire) is as speler van die wedstryd aangewys vir 44 nie uit nie van 68 balle, asook sy boulskof van 2/31 in 5 boulbeurte.
Vir die Namibiese Akademiespan het kolwer nommer agt Waldo Smith op manhaftige wyse vir die enigste vyftigtal van die dag vasgebyt (58 van 79 balle; drie viere).
Voor hom het Gerhard Janse van Rensburg (24 van 28 balle), Michael Müller (24 van 45 balle) en Henré Opperman (30 van 35 balle) die herstelpoging begin nadat die span op 27/3 gesteier het onder die vroeë verliese van Zacheo van Vuuren (6), Tiaan van der Merwe (3) en Adriaan Coetzee (15).
Saam met Smith het nommer nege en tien William Lottering (29 van 34 balle; 2x4 1x6) en Dan Brassell (14 nie uit nie van 14 balle) hardnekkig, maar vergeefs probeer om die laaste vereiste lopies vir ‘n oorwinning te probeer haal.
Vroeër die oggend het Gerhard Janse van Rensburg (3/40 in 8 bb) en Dan Brassell (2/44 in 8 bb) die meeste paaltjies geneem, met Simon Shikongo (0/38 in 10) die mees ekonomies vir die tuisspan.
Wedstryd 2, Maandag
Die Namibiese Akademiespan het ‘n bonkige totaal van 341 vir vyf opgestapel, wat genoeg vir ‘n sege met 98 lopies was toe hulle die toerspan vir 243 (43.4 bb) uitgeboul het.
Waldo Smith is hierdie keer as speler van die wedstryd bekroon. As kolwer sewe het hy 42 nie uit nie van 22 balle gemoker, met twee viere en vier sesse, voordat hy ook as regterarm-naatboule baljaar het met vier paaltjies *4/50 in 10).
‘n Honderdtal deur Zacheo van Vuuren (114 van 118 balle; 13x4 3x6) was ‘n groot faktor in die Akademiespan se oorwinning. In sy aanvangsvennootskap van 195 lopies om die eerste paaltjie was Adriaan Coetzee (94 van 102 balle; 12x4 1x6) ongelukkig om kort voor sy honderdtal uitgevang te word.
Op nommer drie het Tiaan van der Merwe ook belowend gelyk tot hy vir 32 uitgevang is (26 balle; 2x4 2x6).
As veldwerkspan het Namibië ook meestal die oorhand gehad, afgesien van vyftigtalle deur die Engelsmanne Levi Gekis (62 van 66 balle) en later die aanvallende Isaacs Maddy (70 nie uit nie van 40 balle; 4x4 5x6).
Smith se vier paaltjies was toonaangewend, maar William Lottering (2/26 in 6.4), Erik Lintvelt (1/49 in 10) en Gerhard van Rensburg (2/69 in 9) het ook hul kant gebring.
Wedstryd 3, Woensdag
‘n Spannende riller was tot die voorlaaste boulbeurt in die weegskaal voordat Warwickshire met vier lopies die knoop deurgehaak het.
Die Engelse het 263/8 opgestel, voordat hulle die Namibiërs met die 49ste boulbeurt se laaste bal vir 259 uitgeboul het.
Kolwer vyf Arjun Singh Nahal het hom vir ‘n honderdtal ingegrawe (101 van 118 balle; 4x4 5x6) totdat Tiaan van der Merwe hom uiteindelik van Tangi Nuuyoma (2/39 in 10 bb) se boulwerk uitgevang het.
Waldo Smith (2/39 in 10) was opnuut ‘n faktor en Adriaan Coetzee het van sy beste boulsyfers in die reeks gelewer (2/31 in 5). Lottering (1/21 in 4) en Lintvelt (1/49 in 10) was ook bestendig.
In die lopiejaagtog is Adriaan Coetzee vir 16 uitgehardloop (Namibië 42/1 ná 6.3 bb), maar Zacheo van Vuuren (52 van 51 balle; 6x4) en Tiaan van der Merwe (41 van 70 balle; 2x4 2x6) se vennootskap het 51 lopies opgelewer.
Die Engelse het met tydige deurbrake van Van Rensburg (10), Henré Opperman (17), Junior Taanyanda (14), Lottering (13), Lintvelt (7), Rowan van Vuuren (3) en Tangi Nuuyoma (0) ontslae geraak.
So byna het Waldo Smith (72 nie uit nie van 65 balle; 7x4 1x6) die kastaiings uit die vuur gekrap en die reeks in sy span se guns beklink, maar Warwickshire het daarin geslaag om hom betyds van kolfmaats te ontneem.
Smith (weer speler van die wedstryd) se sewe paaltjies in die reeks was die meeste, teenoor vyf elk van Shayan Alam (Warwickshire) en Van Rensburg.
Smith het ook op 172 lopies geëindig (gemiddeld 172; kolftempo 103.61), met Zacheo van Vuuren gelyk op 172 lopies (gemiddeld 57.33; kolftempo 95.03) voor die Engelse se voorste lopiemaker Arjun Singh Nahal (145) en Adriaan Coetzee (125).



Comments
My Zone
No comments have been left on this article