Windhoeker eindig sterk in Tankwa Trek

Bergfietsry
Janse van Rensburg en sy spanmaat van Kaapstad het die blootstelling aan wêreldklas kompetisie terdeë geniet.
Andrew Poolman

Christiaan Janse van Rensburg van Windhoek het saam met Du Toit van den Bergh van Kaapstad ‘n sterk vertoning by die afgelope Tankwa Trek gelewer deur derde in die amateurmanskategorie af te sluit.

Podiumposisies in drie van die skofte getuig van hul mededingendheid, terwyl hul algehele eindtyd (12 ure 55 minute) hulle in die 18de plek uit meer as 200 spanne in die toer geplaas het.

Die uitmergelende skofwedren oor 279 kilometer in vier dae word jaarliks in die Koue Bokkeveld-streek naby Ceres, aan die rand van die Tankwa Karoo, gehou.

Janse Van Rensburg sê die vier skofte sluit twee lang marathon-dae in wat selfs as alleenstaande eendagwedrenne as besonder moeilik beskou sou word.

Skof twee strek oor 88 km met byna 2 000 meter se klim, terwyl skof drie (98 km met meer as 2 200 meter se hoogteverskil) se berugte “Merino Monster”, 'n brutale klim met 'n ewe veeleisende afdraand, dit die toer se dikwels bepalende “Queen Stage” maak.

As 'n geleentheid onder die UCI-vaandel lok die Tankwa Trek wêreldklas Europese en Suid-Afrikaanse talent, maar maak steeds voorsiening vir die “gewone” fietsryer deur ruim afsnytye wat deelnemers toelaat om die natuurskoon en unieke atmosfeer van die Karoo in te neem.

Janse van Rensburg (38) en Van den Bergh (40) het geskerts dat hul oorspronklike doelwit bloot was om saam te kampeer en die ervaring te geniet, maar diegene wat hulle ken, verstaan dat hul bekende "werk hard, speel hard"-benadering tog algaande ingeskop het.

Beide ryers bring heelwat ervaring na die vennootskap. Die duo het tevore saam in die Absa Cape Epic deelgeneem en in verskeie skofte podiumplekke behaal, terwyl Janse van Rensburg 'n bekroonde kampioen in verskeie Suid-Afrikaanse wedrenne is. Van den Bergh is eweneens 'n ervare uithou-jaer met vele jare se ervaring in skofwedrenne.

Hul vennootskap is gewortel in vriendskap, 'n gedeelde liefde vir die sport en 'n verbintenis tot fiksheid en gemeenskap. Beide ryers is ook betrokke by die mentorskap van jong talent, met die klem op vriendelikheid, genot en balans, tesame met prestasie.

“Ryers in die Tankwa word getoets deur genadelose rotsagtige terrein, sand, hitte, lang klimme en tegniese afdraandes, maar benewens hierdie fisiese eise is die toer bekend vir sy uitsonderlike gasvryheid.

“Die kampeerterrein word elke aand 'n lewendige middelpunt, gevul met lag, gedeelde stories en 'n tasbare gevoel van kameraadskap – een van die redes waarom die Tankwa Trek so 'n sterk aansien in die wêreldwye bergfietsgemeenskap geniet,” sê Janse van Rensburg.

Namibiese sukses by die Tankwa Trek het Piet Swiegers se oorwinning saam met Udo Bölts van Duitsland in die meestersmanskategorie ingesluit, asook Vera Looser (Namibië) en Samantha Sanders (Suid-Afrika) se tweede eindposisie by die elite vroue.

Die wedren dien as 'n belangrike opbougeleentheid vir fietsryers – professioneel óf amateur – wat vir die Absa Cape Epic in Maart voorberei.