Uitnemendheid die sleutel tot sukses

Huncho Kapofi
Die Primêre Skool Eros se deure is amptelik in 1957 geopen. Die skool het tans 1 894 leerlinge en 45 onderwysers. Jacobina Hamata, die huidige skoolhoof, vind altyd innoverende maniere om leerlinge besig te hou.

Die skool streef daarna om uitnemendheid te handhaaf en leerlinge in staat te stel om hul volle potensiaal te bereik.

Die missie is om ’n doelgerigte omgewing vir leerlinge, onderwysers en belanghebbers te kweek, asook om die skool te transformeer.

Aktiwiteite wat by die skool aangebied word, sluit in die atletiekdag waar leerlinge die kans kry om in verskillende atletiekkodes, soos baan- en velditems, deel te neem.

Die Eros-sportdag is eie aan die skool waar leerlinge in verskillende sportkodes deelneem. Op dae soos dié sportdag word leerlinge aan verskillende geleenthede blootgestel waar hulle hul talente kan ten toon stel en raakgesien kan word.

Die Eros-pretdag is nog ’n dag wat leerlinge die geleentheid bied om pret te hê. Leerlinge kan hulself in gewone klere uitdruk terwyl hulle die dag geniet. Die skool fokus nie net op onderrig nie, maar streef om ’n omgewing van balans en sosialisering te skep.

Nog ’n jaarlikse sosiale geleentheid is die graad 7’s se afskeidspartytjie. Die graad 7-leerlinge kry kans om van mekaar afskeid te neem en kan hulself in hul mooiste klere optooi.

Die skool is ook trots om deel van die skoolboekieprojek te kon wees wat skoolboekies tydens die Covid-19-pandemie ontwikkel het, het Hamata gesê.

Wat Eros uniek maak en onderskei van die res van die skole, is die onderwysers wat hul hart en siel in die onderrig van leerlinge sit. Sodoende kan leerlinge en onderwysers sowel as die breë gemeenskap lewenslange lesse leer.