1970

WHS wen eindstryd om Klopperbeker

Die eerste rugbyspan van die Hoërskool Windhoek het Saterdag in die hoofwedstryd in die Suidwes-stadion in Windhoek, die gesogte Klopperbeker gewen toe hulle die span van Mariental met 3-0 geklop het. Dit was egte skolerugby, waarin die bal pragtig deur voor- en agterspelers hanteer is. Die toeskouers was dikwels op hulle voete toe albei spanne met ’n paar mooi en opwindende bewegings vorendag gekom het Die spanning het hoog geloop toe rustyd aanbreek met nog geen telling op die telbord nie. Mariental was ongelukkig om die wedstryd te verloor. Voorryman en kaptein Herman van Zyl het drie rnakiike strafskoppe na die pale verbrou. Daarby het die swak hanteerwerk in die agterlyn van die besoekers grootliks bygedra tot hulle nederlaag.

Die punte van die Hoërskool Windhoek is deur die losskakel A. Swanepoel aangeteken. Aan die kant van die besoekers het Herman van Zyl en vleuel J. Meyer goed vertoon. Senter Dirk Burger en skrumskakel D. Joubert het die oog gevang in die plaaslike span.

Maj. A. Carstens het hom baie goed van sy taak as skeidsregter gekwyt.