1972

BEKER VANJAAR NA KEETMANS

DIE Klopper-beker staan vanjaar op Keetmanshoop. Dit is die eerste keer dat die Hoërskool Keetmanshoop die gesogte trofee kon verower.

Die besoekers van Suide het Saterdag seker gemaak dat hulle vanjaar die beker na Keetmanshoop kon neem toe hulle in die eindwedstryd vir die Hoërskool Windhoek met 13-3 geklop het.

Met dié oorwinning het Keetmanshoop ook gewys dat sy sege vroeër vanjaar in ʼn vriendskaplike wedstryd teen W.H.S. geen gelukskoot was nie.

Genade

Keetmanshoop is aanvanklik min kans gegee om selfs die halfeindronde te haal, maar verlede week in Windhoek het hy ʼn waarskuwing gerig toe hy die gedugte span van die Hoërskool Outjo, kampioenspan van Noorde, met 24-12 verslaan het.

Saterdag was dit ʼn eindwedstryd in die ware sin van die woord. Albei spanne het verwoed ingeklim. Geen genade is gevra of gegee nie.

Die wedstryd het die verbeelding van Windhoek se rugbypubliek aangegryp want die hoofpawiljoen van die stadion was volgepak. Die mense het tot en met die eindfluitjie bankvas bly sit, want die finale uitslag was tot op die laaste oomblik in die weegskaal.

Keetmanshoop was rustyd met 4-0 voor nadat agtsteman D. Nortjé ’n drie gedruk het. Die drie het gekom na ’n volle agterlynbeweging. ’n Losskrum het ontstaan, Nortjé het die bal opgeraap en tien meter gedraf vir sy drie. Die doelskop was mis.

In dié helfte het Keetmanshoop ’n redelike sterk wind van agter gehad en oor die algemeen gebiedsvoordeel geniet.

Verhoed

Kort ná rustyd het stut A. Pearson die besoekers verder laat voorloop met ’n mooi strafdoel. Toe dit gelyk het asof die besoekers nie meer hul voorsprong kon afstaan nie, het die tuisspan vlam gevat.

’n Strafdoel deur skrumskakel V. Jurgens was die inspuiting wat W.H.S. nodig gehad het. Daarna het Keetmans gekeer vir al wat hy kon. Die Windhoekers het die een aanval ná die ander op tou gesit en in die laaste tien minute vir Keetmanshoop op sy doellyn vasgepen. Rotsvaste verdediging het egter verhoed dat W.H.S. verdere punte kon aanteken.

In die laaste minuut, toe W.H.S. steeds ’n kans gehad het om te wen, maar toe die spel weer na die middel van die veld gevorder het, het vleuel G. Viljoen van Keetmanshoop die bal gekry, ver genael en ’n drie naby die hoekvlag gedruk. Pearson se doelskop was mis en die eindfluitjie het geblaas.

Kanse

Hoewel Keetmanshoop die oorwinning deeglik verdien het, het die twee spanne baie goed teen mekaar opgeweeg. In die lynstane was W.H.S. die beste daaraan toe, maar Keetmanshoop se losvoorspeler het soos tiere geveg en ’n groot aandeel in hul span se welslae gehad.

Die agterlyne het min kanse gekry om op dreef te kom, maar dit was hoofsaaklik as gevolg van die puik verdediging wat albei spanne aan die dag gelê het.

Dié wedstryde het ook bewys dat Windhoek se rugbyliefhebbers graag sulke wedstryde wil sien. Dit kan beslis sterk oorweeg word om aanstaande seisoen die wedstryde in die reeks om die Klopper-beker Saterdae in die middag in die stadion te laat plaasvind.