1973

(DEUR TOESKOUER)

TOESKOUERS in die Suidwes-stadion het Saterdag tot op die laaste gebly tydens die harde, taai en spannende stryd tussen die spanne van Otjiwarongo en Keetmanshoop se hoërskole. Die twee spanne het meer as 1 500 kilometers gereis om in die eindstryd vir die Klopper-beker te speel.

Die spannetjie van Otjiwarongo het 'n deurbraak vir die Noorde gemaak toe hy die eerste span uit die streek geword het om die beker te wen. Die Beesboere het die Skaapboere met 8-4 getroef. Die telling maak egter nie saak nie, dit was lekker en mooi rugby en elke ondersteuner, ook die van Keetmanshoop kan baie gelukkig voel. Hoewel Keetmanshoop die knie moes buig, verdien die manne wat heelwat ligter as sy opponent was, alle lof vir die tipe spel wat hulle gespeel het. As daar 'n beker was vir die span wat die mooiste rugby gespeel het, dan is ek seker het dit vandag 'n tuiste in die Suide gehad. Eintlik sou 'n gelykoptelling 'n baie beter weergawe van die spel gewees het maar dit is nou maar een maal rugby.

Keetmanshoop het miskien meer geleenthede gehad om punte aan te teken maar hy het nie van sy kanse gebruik gemaak nie terwyl Otjiwarongo sy kanse benut het. Otjiwarongo was meer vol taktiek as Keetmanshoop en so bv. het Otjiwarongo heelwat balle skoon by die lynstane weggekry deurdat die vleuel die bal op die voorste speler gegooi het wat dit weer vinnig terug-gestuur het na die vleuel wat dan weer die skrumskakel gevoer het. Met hierdie taktiek was Otjiwarongo baie suksesvol asook met die swaai van die vasteskrums. Suide se heelagter was twee keer verplig om die bal oor te dra en Otjiwarongo het elke keer daarin geslaag om dan die vyftreeskrum te swaai en so het kantman en kaptein Fanie van Zyl sy span se twee drieë gekry.

Waar Keetmanshoop se agterlyn verkies het om meer met die bal te hardloop, het Otjiwarongo weer verkies om meer te skop en dan met sy lekker groot en sterk voorspelers te storm. Dit is waarom ek meer van Keetmans se tipe spel gehou het. Dit was juis na 'n volle agterlyn beweging wat Keetmans se enigste punte gekom het toe vleuel Jan Visser soos blits op Otjiwarongo se doellyn afgestorm het om die bal in die hoekie neer te sit. Dit was 'n mooi drie en die toeskouers het dit geniet. Waar Otjiwarongo se krag by sy voorspelers lê, het dit gelyk of Keetmans se agterlyn die gevaarlikste is. Die eerste helfte was gekenmerk deur heelwat beserings maar dit het gelukkig nie gekom van ontoelaatbare spel nie, maar wel harde rugby. Die noodhulpmanne moes aan verskeie spelers aandag gee. In hierdie helfte het beide spanne ook kanse gehad om met strafskoppe punte aan te teken maar nie een was suksesvol nie. Die lynstane en skrums het in die eerste helfte redelik gelykop verloop terwyl Otjiwarongo ʼn baie klein voorsprong in die los gehad het. Keetmans het die meeste gebiedsvoordeel gehad. In die tweede helfte het Otjiwarongo meer balle uit die lynstane en vaste skrums gekry en ook beter in die los gevaar.

Dit is moeilik om uitblinkers uit te sonder. Otjiwarongo kan egter trots voel met die vertoning van sy kaptein Fanie van Zyl en losskakel Cyril v.d. Heever. Aan die kant van Keetmanshoop het stut Alex Pearson baie beïndruk.

Die Skaapboere het na 20 minute voorgeloop toe vleuel Jan Visser agter Otjiwarongo se doellyn gaan kuier het. Keetmans het die voorsprong tot in beseringstyd behou voordat Van Zyl van 'n swaaiskrum oorgegaan het. Tot drie minute voor die einde was die twee spanne nog gelykop, maar weer het Otjiwarongo daarin geslaag om die skrum te swaai en weer het Van Zyl gaan druk.