1976

HTS VEG HARD OM BEKER TE BEHOU

Deur Cor Leiejenaar

DIE Hoër Tegniese Skool het Saterdag die Klopper-beker vir die tweede agtereenvolgende jaar gewen toe hy die Hoërskool Etosha met 22-6 in die eindstryd geklop het.

Die telling gee nie juis ’n aanduiding van hoe hard H.T.S. vir elke punt moes veg nie. Etosha het soos tiere verdedig teen ’n span wat die bal klokslag uit die vaste spel en die los gewen het. Dit was nie ʼn aanskoulike wedstryd nie, maar 'n botsing so hard soos wat kan kom. Veral in die tweede helfte het H.T.S. die bal keer op keer na sy agterlyn laat loop. H.T.S. het in die helfte wel drie drieë gedruk, maar daar was talle bewegings wat Etosha met welslae gesmoor het. Vir die verloorspan het agtsteman Van Wyk in die tweede helfte ’n bars gespeel. Skrumskakel De Beer het ook geskitter.

Vir H.T.S. was dit senters Voigt, maar veral Blaauw, wat uitgeblink het, terwyl vleuel Kotze die bewegings met drie mooi drieë afgerond het. Die voorspelers het almal baie goed gespeel.

Al vier drieë van H.T.S. was, vleueldrieë - D. le Roux het die ander drie gedruk. Voigt het met 'n strafdoel geslaag en losskakel Chris De Jager, wat ook kaptein was, het 'n skepdoel behaal. Vleuel S. Potgieter het Etosha se drie gedruk en senter De Koning het vervyf. H.T.S. was rustyd met 7-0 voor.

Die mooispeelbeker vir die dag se spel is toegeken aan die Hoërskool Keetmanshoop se onder 14-span. Die uitslae van al die wedstryde met die rustydtellings in hakies was soos volg:

Eerste spanne H.T.S. 22 (7), Etosha 6 (0); tweede spanne H.T.S. 12 (6), Jan Möhr 3 (0); onder 16 - W,H.S. 4 (0), Grootfontein 4 (4): onder 15 W.H.S. 9 (6), Otjiwarongo 6 (0): onder 14 Keetmanshoop 12 (0), Walvisbaai 6 (6).