1980

Voorspelers van HTS word verras

Deur WIMPIE RUST

DIE gesogte Klopperbeker gaan vir die eerste keer in sy bestaan vir 'n jaar lank op Gobabis pryk! Die eerste rugbyspan van Wennie du Plessis het Saterdag in die Suidwes-Stadion daarin geslaag om 'n oorwinning van 9-0 oor HTS van Windhoek te behaal nadat hy rustyd met 'n skrale 3-0 voorgeloop het.

Harde skoon skole-rugby wat beslis aan die verwagting van elkeen voldoen het, hoewel nie ʼn enkele drie in die wedstryd gesien is nie. En dit alleen vertel die verhaal van wat dit beteken om in ’n eindstryd om dié beker te speel.

Wennie du Plessis het verdien om te wen. As hy sou wen, is verwag dat hy dit met sy gevaarlike agterlyn sou doen. Die teenoorgestelde het gebeur met 'n begeesterde pak voorspelers wat die botoon gevoer het in alle afdelings van die spel. HTS, wat deurentyd in 'n goeie posisie was om die wedstryd in sy guns te beklink, het nooit gaan lê nie, maar dit was sy magtige pak voorspelers wat geneutraliseer is. Hulle het net nie genoeg balle tot hulle beskikking gehad om werklik beheer oor die wedstryd te kry nie. In die Iynstane het Wennie du Plessis miskien vir die grootste verrassing gesorg deur Adriaan van der Merwe en Beyers Swanepoel heeltemal te oorskadu. Dit was veral Aart der Vyfer op nommer twee wat knaend balle gewen het voor die groot en swaar manne van HTS.

Dié afdeling van die spel het Wennie Doep uiteindelik met 22-10 gewen.

In die skrums het dit ook nie veel beter gegaan met die pak voorspelers wat elke span vanjaar op sy senuwees gehad het nie. Gert van Zyl van Wennie du Plessis het die vaskopstryd met 3-1 gewen. En in die losskrums was dit teen die einde ook net Wennie du Doep wat die bal elke keer vinnig agter toe laat kom het. Van die gevaarlike agterlyn van Gobabis is nie veel gesien nie. Daarvoor het Len Huisamen en Ewert Nortjé gesorg wat hitter min gate gelaat het vir Hawie Engels en Gerhard Mans. Die kere wat hulle wel aan die hardloop geraak het, is hulle hard grond toe gebring deur Huisamen en Nortjé.

Die beste individuele speler was nogtans aan die kant van HTS. Bertie Engelbrecht was skitterend op heelagter en was die grootste rede waarom Hawie Engels se gevaarlike taktiese skoppies nooit vrugte kon afwerp nie. Engelbrecht het laat in die wedstryd 'n fout of twee begaan, maar andersins het hy skouspelagtig vertoon. Heini Prinsloo was onder groot druk maar het goed daarin geslaag om sy agterlyn te gebruik.

Dit is baie jammer dat HTS nie vir Prinsloo beter gebruik het nie. Terwyl Hawie Engels die punte stadig laat groei het met strafskoppe, het HTS op sy swaar voorspelers staatgemaak tydens strafskoppe en minstens by twee geleenthede kon Prinsloo dit sonder enige twyfel in punte omskep het. Maar die verskil het uiteindelik daarin gelê dat Wennie Doep minder foute gemaak het. Slegs vier strafskoppe is teen hom toegeken, teenoor die elf teen HTS. Drie daarvan het Hawie Engels met briljantheid in punte omskep om sodoende die wedstryd te wen.