1981

Jan Möhr doen dit toe sowaar!

Klop Academia in taai stryd 10-4

Deur WIMPIE RUST

JAN MÖHR het Saterdag op die Suidwes-Stadion daarin geslaag om in sy 20ste bestaansjaar vir die eerste keer die gesogte Klopperbeker te wen. Hy het in een van die taaiste eindstryd nóg, met 10-4 met Academia afgereken. Rustyd was Jan Möhr 6-0 voor.

’n Wedstryd waarin net drie drieë gedruk word is nie normaalweg van die aanskoulikste nie, maar Saterdag het ʼn groot skare bankvas bly sit om ’n uiters spanningsvolle eindstryd enduit te aanskou.

In baie jare is so ’n harde wedstryd nie op die Suidwes-Stadion gesien nie. Harde wedstryde sorg dikwels nie vir aanskoulike rugby nie, maar as dit met die verwoede vuur gepaard gaan waarmee sowel Jan Möhr as Academia ingeklim het, word kookwater-rugby gesien.

Alle eer aan Academia. Hulle was Saterdag waardige verloorders en sake kon net sowel in hulle guns verloop het, want daar was werklik min te kies tussen hierdie twee spanne.

As daar uit dertig begeesterde jong spelers ʼn uitblinker uitgesonder moet word, dan sal dit Danie Botes, agtsteman en kaptein van Jan Möhr wees. Werklik, só het hierdie Botes nog nie eenkeer vanjaar gespeel nie. Hy was op die voorpunt van elke aanval, was eerste by om verwoed by losskrums in te klim, en was ook verantwoordelik vir die skitterdrie van flank Hennie Venter.

Nog ’n speler wat werklik goeie rugby gespeel het, was die Möhre se slot, Francois Pretorius. Hy het veral in die vaste los uitgeblink.

Jan Möhr het in die eerste helfte saam met ʼn onplesierige en sterk wind gespeel, maar het nooit werklik daarin geslaag om die wind te benut nie. Veral sy agterlyn het hopeloos te veel hanteerfoute in die wind gemaak.

Die eerste punte van die wedstryd het in die 29ste minuut gekom toe Johannes Smit van Academia op sy eie kwartlyn die kantlyn ná ’n losskrum wou opsoek.

Die sterk wind het die teruggedryf in die hande van Andries Bredenkamp wat met krag hoekvlag toe gestorm het. Kiewiet Engelbrecht het met die moeilike doelskop geslaag ná hy vroeër in die wedstryd met twee makliker strafskoppe misluk het.

Die drie van Jan Möhr was miskien ’n bietjie teen die verloop van die spel gedruk want Academia het soos tiere gespeel en die swaarder Jan Möhr vir lang tye in sy eie gebied vasgepen.

Na rustyd was 10 minute se spel verstreke voor Jan Möhr se voorspelers lustig begin rondgooi het. Uiteindelik was dit Venter wat met twee hinkstappies nog twee verdedigers geklop het om oor te val.

Academia, wat skitterend verdedig het, het teen dié aanval ’n bietjie ontwrig gelyk. Engelbrecht kon nie met die doelskop slaag nie.

Dit was eers in die 30ste minuut dat Academia sy rekening kon open toe flank Stef Botha ’n bal kon onderskep het. Hy het mooi gedryf en toe vir voorry Dieter Teichert gegee wat naby die hoekvlag oorgeval het. Smit kon nie met die doelskop slaag nie (10-4).

Die punte-verskil was klein en Jan Möhr het waarskynlik die wedstryd gewen omdat hy sy kanse beter benut het. Dit was egter skole-rugby op sy beste waarop Suidwes trots kan wees.