1983

Daar's koek in die hoek!

Deur Des Erasmus

DIT was so byna soos in die dae van die "diggings". Die vinnigste man in die bondel het elke keer die wedloop gewen en sy kleim afgepen. Saterdagmiddag in die Suidwes-stadion was dit Chris Badenhorst, kaptein en heelagter van die Hoërskool Windhoek, wat die wedloop 'n triomftog na twee juweeldrieë gemaak het. Die skat waarmee sy span beloon was, is die Klopper-beker. Vir die tweede agtereenvolgende jaar kry die hoogste trofee in skolerugby 'n staanplek in die glaskas van WHS nadat 'n stram HTS eers in die bittereinde van die wedstryd oorgegee het. Die geskiedenis op die telbord was 10-6 in die guns van WHS.

Maklik was dit nie. HTS was in die tweede helfte met 6-0 voor toe Badenhorst die hoekvlaggie aan die Iinkerkant as teiken vir sy wedloop gekies het. Hy het gewen en die telling was 6-4. Voor die eindfluitjie het hy op identiese wyse 'n tweede jaagtog hoekvlag toe gewen. Daar was net een verskil. In 'n middag van vrotsige skelskopwerk het Bennie Viljoen, losskakel van WHS, die keer die bal hoog deur die mikke gejaag en die telbord op 10-6 laat vasslaan. Die twee blinkes wat in die sif van HTS agtergebly het, was twee strafdoele deur haker Spencer du Toit. Maar hoe amper was dit nie vir HTS nie. In daardie eerste helfte het Theuns van der Merwe soos 'n warrelwind langs die linkervleuel afgestorm en sentimeters kort van die doellyn geval. Die wedstryd het sy twee duidelike afdelings gehad — HTS wat sterk begin het en WHS wat nog sterker geëindig het. Eers die wenners.

In daardie eerste helfte was dit veral op die verdediging wat HTS pragtig in een ferme lyn opgestorm het en die gate toegestop het. WHS het daarop gekonsentreer om foute uit te skakel en wanneer mnr. Jacques Malan se geselsende fluitjie gepraat het, was dit gewoonlik teen HTS. Veral in die lynstane het HTS foute gemaak wat tot 'n rits strafskoppe teen hom aanleiding gegee het. Dit was vroeg duidelik dat Chris Badenhorst vir HTS die WHS-man met die prys op sy kop was. Elke keer wanneer hy hom uit die heelagter-posisie by sy agterlyn kom aansluit het, was daar sommer drie-vier verdedigers by om hom te laat val — soms bitter hard te laat val. Dit was toe dat Badenhorst besluit het om buite die vleuels in te kom waar die dekverdediging nie so heg was nie. Juis dit het tot sy twee drieë aanleiding gegee. Lig ook die hoede vir die wyse waarop WHS se voorspelers gehou en teen die einde selfs teruggekom het nadat dit aanvanklik gelyk het of hierdie uur plus in die hoofkwartier van Suidwes-rugby vir hulle 'n moordtog sou afgee. Hierdie voorhoede het op die regte plekke toegeslaan soos kantman Uys Schickerling, wat met sy neus op die bal gebly het. 'n Halfdosyn hoekoms slaan uit wanneer die vergrootglas na die spel van die verloorders verskuif. In die eerste twintig minute het HTS se voorspelers 'n paar keer indrukwekkend gedryf, maar hierdie taktiek toe sonder rede laat vaar. In sy agterlyn was daar hanteer-foute, maar daarvoor het 'n eenvoudige rede bestaan. Die agterspelers het te ver van mekaar gestaan en suiwer aangeewerk bemoeilik. En waar was die kruisverdediging toe Badenhorst vir sy twee drieë deurgesny het. 'n Man soos die hardwer-kende Koos Swart as los-voorspeler is mos gewoonlik daar. Die doelskoppers se visier was uit, maar nogtans was dit HTS se Spencer du Toit wat sy span rustyd met 3-0 laat voorloop het nadat hy 'n taamlike maklike doel deurgeklits het. In die veertiende minuut het HTS sy gevaarlike taktiek van 'n bykomende speler in die agterlyn gebruik en Theuns van der Merwe was weg op 'n stormloop hoekvlag toe. Vlieënde laagvatte het hom naellengtes van die lyn gestuit en hy is gestraf toe hy nie die versoeking kon weerstaan om die bal tog in die gloriegebied te skuif nie. Met daardie 3-0 was HTS steeds 'n kortkop voor toe rustyd aangebreek het. Knaprustyd het Du Toit dit 6-0 gemaak met sy tweede strafdoel. In hierdie stadium het WHS reeds die ondernemingsgees geneem en HTS moes keer net waar hy kon. Ná 14 minute het WHS se agterlyn op 'n bondeltjie getrek nadat HTS onder hewige druk die bal oor die doodlyn gesool het. WHS het bemeester en Chris Badenhorst in die middelveld in besit gestel vir sy eerste triomftog hoekvlag toe. Die doelskop was mis, maar HTS se voorsprong van 6- 4 het in hierdie stadium gevaarlik gekantel.

Toe Badenhorst sy tweede drie op identiese wyse gaan druk het en Viljoen se doelskop uit die hoek skitterend oor was, het WHS die Klopper-beker met 10-6 gewen.