1986

WHS weer bo

DIE Hoërskool Windhoek se senterpaar, Willem Tromp en Heinrich Lubbe, het gistermiddag in die

Suidwes-stadion die Hoërskool Grootfontein se aansprake op die Klopper-beker platgedruk toe WHS taamlik maklik met 31-12 gewen het.


Grootfontein se voorspelers het in die middeldeel van die wedstryd hard teruggeveg, maar hulle het nooit agterlangs oor die slaankrag van Lubbe en Tromp beskik nie. Voeg hierby die woelwater vertoning deur skrumskakel Bennie Barnard van WHS en die prentjie is byna volmaak.

Barnard het self twee van WHS se ses drieë gedruk en aanvoorwerk vir ander drieë gedoen deur soms skitterend die rigting van die spel te verander.

WHS se ander driedrukkers was Tromp en Lubbe op senter, Ronald Rabie op vleuel en Charlie Basson op agtsteman. Lubbe het met ʼn strafdoel en twee doelskoppe geslaag. Vir Grootfontein het agtsteman Pieter de Jager ’n drie gedruk. Die doelskop is deur losskakel Skille Nel behaal, wat ook met twee strafskoppe geslaag het.

Hoewel hy teen die wind opgedraf het, was dit Grootfontein wat onmiddellik aangeval het. Toe WHS taamlik ver uit gestraf is, het Skille Nel ʼn eerste kans pale toe gehad, maar hy was kort teen die wind. In die sesde minuut was WHS voor toe Heinrich Lubbe met sy eerste poging pale toe geslaag het.

Maar die beweging wat die groot skare in die Suidwes-stadion gaande gehad het was die breekslag waarmee Willem Tromp in die agtste minuut gekom het. Dit het na ’n sekere drie gelyk, maar Lubbe kon nie sy aangee raakvat nie. WHS het egter indrukwekkend gelyk en Leon van Niekerk het ʼn keer mooi op die linkervleuel beweeg.

Die elfde minuut het die eerste drie van die wedstryd opgelewer. WHS se voorspelers het bemeester en Bennie Barnard op skrumskakel het eers skuins oor die veld gesny en toe deurgebreek vir ʼn drie naby die hoekvlag. Lubbe se doelskop was mis. (7-0)

Die tekens was egter teen Grootfontein namate WHS al hoe meer gehardloop het en die Noorde-manne se verdediging begin swig het. In die 19de minuut het die punte die horlosie begin jaag.

Weer was dit Willem Tromp wat sterk ingesny en by die pale deurgebars het. Lubbe se doelskop was oor (WHS 13 - Grootfontein 0) Grootfontein het sterk teruggeveg en in die 23ste minuut was sy voorspelers byna deur.

WHS het egter by sy hardloop-patroon gehou en in die 25ste minuut het Lubbe gebreek en die keer na Tromp uitgegee wat weer vir Ronald Rabie op die regtervleuel gevoer het.

Rabie het naby die hoek oorgeduik en toe Lubbe weer links verby was, was die weer vir WHS mooi met die telling 17-0.

Ná 29 minute het Skille Nel ’n tweede poging pale toe gekry, maar die keer was die pal links verby. Minder as ’n minuut later het hy van vlak voor die pale aangelê en oorgeskop WHS 17 - Grootfontein 3) Hierdie was welverdiende punte vir Grootfontein namate veral sy voorspelers teruggeveg het. Dit het ook die rustydtelling geword met die enigste troos vir Grootfontein dat die wind in die tweede helfte saam met hom gaan speel.

Sommer die openingskoot van die tweede helfte was punte toe Bennie Barnard om die skrum geglip en die bal toegeval het vir sy tweede drie. Die doelskop was weer mis (21-3) Grootfontein het rede gehad om na vier minute ’n bietjie skeef op te kk. Willem Boshoff het op senter deurgebreek en dit het na ’n drie vir die Noorde gelyk toe mnr. Faan Oosthuizen die spel onderbreek en ʼn strafskop aan Grootfontein gegee het. Skille Nel het oorgeskop (21-6).

WHS het steeds sy agterlyn aangewend, maar eensklaps was daar ’n gebrek aan afronding. Dit was nou ook ʼn uitgemaakte saak dat Grootfontein se voorspelers nog lank nie oorgegee het nie.

Met toeskouers wat huis toe gestroom het, het Charlie Basson op agtsteman WHS se volgende drie gedruk toe die voorspelers eers met die skrum geloop het en hy net gedruk het. Lubbe het oorgeskop (WHS 27-6).