1988

Klopperbeker vir Etosha

DIE Hoërskool Etosha het gister in die Suidwes-stadion die Swabank-Klopperbeker gebuit toe hy die span van Academia in die eindstryd met 9 - 3 geklop het. Academia het eerste bloed geruik toe heelagter Tian Steenkamp in die elfde minuut van die eerste helfte met 'n strafdoel geslaag het om die telling 3 - 0 te maak. Etosha het in die agttiende minuut voorgeloop toe senter Gerrit Viviers gaan druk en losskakel Nico Horn met die doelskop geslaag het. Viviers het 'n fout van Academia uitgebuit toe die bal in 'n agterlynbeweging laat val is. Hy het dit vorentoe geskop, dit opgepik en vir die teenstanders weggenael om oor te val. Horn het die drie verdoel om die telling 6 - 3 te maak.

Die enigste punte in die tweede helfte was 'n strafdoel deur losskakel Horn om die telling 9 - 3 te maak. wat dan ook die eindtelling was. Die punte het in die tiende minuut gekom.

Dit was die eerste keer dat Etosha die trofee kon inpalm. Vir die wenspan was dit sy hegte verdediging wat die knoop deurgehak het. Sy drie losvoorspelers moet ook uitgesonder word. Die manne het hul harte uitgespeel en gesorg dat Etosha die losstryd wen.

Dit was 'n klipharde wedstryd en albei spanne was bereid om met die bal te hardloop. Academia se hantering het hom op kritieke tye in die steek gelaat wanneer hy op die aanval was. Hoewel hy teen die einde kwaai aangeval het, het die wenspan se verdediging enduit gehou.