1989

Klopperbeker na Academia

DIE Hoërskool Academia se eerste rugbyspan het gister geskiedenis gemaak deur die Klopperbeker vir die eerste keer te wen. Hy het die Hoërskool Grootfontein in die eindstryd in die Suidwes-stadion met 41 -- 15 geklop nadat hy rustyd met 18-9 voorgeloop het. Die groot uitblinker van Academia was Tiaan Steenkamp (heelagter), wat 29 punte met sy skopskoen aangeteken het. Sy span se driedrukkers was Janneman Brand (agtsteman, twee) en Petrie Theron (vleuel). Puntemakers vir Grootfontein was Johan Luttig (vleuel), wat 'n drie gedruk het, en Emil Erasmus (losskakel), wat elf skoppunte aangeteken het. Academia het die skrums heeltemal oorheers en in die proses vyf vaskoppe gehaak. Die wedstryd is benadeel deur 'n sterk wind wat die spanne verhinder het om die bal te dra. Academia se tweede span het die span van die Hoërskool Swakopmund met 17 -- 15 verslaan. Dit is die eerste keer dat dieselfde skool albei bekers wen.