1990

Skole deel beker

DIE HoërsKool Windhoek kon nie gister daarin slaag om die begeesterde Grootfontein-rugbyspan in die eindstryd van die Klopperbeker in die Suidwes-stadion te klop nie.

Die twee spanne moes ná sestig minute met ’n gelykop uitslag van 3 - 3 tevrede wees nadat WHS tot vyf minute voor die einde danksy ʼn strafdoel voorgeloop het.

In die eindstryd van die tweede liga moes die Hoërskool Academia net so hard spook om Rehoboth met 9 - 6 te klop nadat hy rustyd met 3 - 0 voor was. WHS se onder veertiens het hul wedstryd teen Academia maklik met 14 - 0 gewen, terwyl die onder 15-span van WHS ook min moeite ondervind het om sy wedstryd teen Academia met 13 - 3 te wen.

Die Fanie van Zyl XV het die Herman Vlok XV met 16 - 4 geklop nadat hulle rustyd met 6 - 0 voor was. Dit was 'n proefwedstryd om 'n Namibiese skolespan saam te stel.

Die Klopperbeker-eindstryd was kliphard en het by tye goeie samespel tussen voor- en agterspelers gelewer. Lank laas is sulke rotsvaste verdediging gesien en veral Ian Mostert, senter van Grootfontein, het in hierdie opsig uitgeblink. Mostert het nie gehuiwer om met vaart onder sy teenstanders in te seil nie.

Deon Kotze, skrumskakel van WHS, het na drie minute se speeltyd met 'n strafdoel geslaag nadat Grootfontein weens onkantspel gestraf is.

Ná die geslaagde strafdoel is geen genade betoon nie en dit was veral die besoekers van die Noorde wat met brute krag gedryf en geskrum het. Agterlangs het die spelers mekaar so goed dopgehou dat meestal van skoppe gebruik gemaak is.

Grootfontein het ook vroeg in die wedstryd sy kanse verspeel om punte aan te teken en teen die einde het hy weer dieselfde foute begaan. WHS het goed afgeronde spel gelewer, maar sy teenstanders het sy gevaarlike agterlyn lam geduik. Grootfontein se gelykmakende punte is deur sy loskakel Emile Erasmus rnet 'n strafdoel aangeteken. Kort hierna het die eindfluitjie geblaas.