1991

Academia wen beker
Deur Gert Kruger

DIE rugbyspan van die Hoërskool Academia het Saterdagmiddag in die Suidwes-stadion in Windhoek die trotse houer van die Klopperbeker vir skolerugby geword toe hy in 'n harde, titaniese stryd die span van die Hoërskool Windhoek met 12 - 3 geklop het. Academia was rustyd met 6 - 3 voor. Academia het die wedstryd gewen omdat hy as 'n span beter saamgespeel het as WHS en omdat hy die WHS-ers van meet af onder druk geplaas het. Die wen-span het WHS vir bykans 80-persent van die wedstryd in sy eie gebied vasgepen. Losskakel en kaptein Danie Keulder was sy span se held toe hy al twaalf Academia se punte met die voet aangeteken het. Keulder het drie strafdoele en 'n skepdoel behaal. Vir WHS het losskakel Deon Kotze al die punte aangeteken met 'n strafdoel. Academia het WHS voortdurend onder druk gehou en die gevaarlike agterlyn van WHS geen sentimeter beweegruimte gegee nie. Daarby het Academia vir die grootste gedeelte van die wedstryd gebiedsvoordeel geniet en moes WHS deurlopend van skoppe gebruik maak om uit die moeilikheid te bly. Voorlangs was dit 'n harde, maar redelik gelykop stryd. Die twee agttalle het geen genade teenoor mekaar betoon nie. Geen genade is ook gevra nie. Academia met sy swaarder pak voorspelers was miskien net 'n rapsie beter daaraan toe as WHS. In die losspel het die spanne ook goed teen mekaar opgeweeg. Aan die kant van Academia het Gerhard Duvenhage. Charl Barnard en Fouché Brand hul harte uitgespeel en gesorg dat Academia goeie balle uit die losskrums gekry het. Aan WHS se kant moet die naam van kaptein Joubert Balt uitgesonder word. Hy was telkemale by om bewegings van Academia te stuit en dan vir WHS die bal te wen. Die lynstaanstryd het ook redelik gelykop verloop, hoewel Academia se besit uit dié afdeling skoner as WHS s'n was. Agterlangs was die titaniese verdediging aan albei kante 'n kenmerk van die wedstryd. Omdat die wedstryd tipies van 'n eindstryd was, is min agterlynbewegings gesien. Die uitblinkers aan Academia se kant was vleuel Gerhard van Wyk, losskakel Danie Keulder, skrumskakel Douglas Schoombee en sy lostrio van Barnard, Brand en Duvenhage. Aan WHS se kant het Balt, senter Thomas Botha en slot Louis Lategan goed gespeel. In die geheel gesien het Academia verdien om die wedstryd te wen omdat hy minder foute gemaak het. Die uitslae van die ander eindstryde in die skole-ligas is: o.13: PK de Villiers 4, WHS 4; o.14: Jan Möhr 6, HTS 6; o.15: WHS 11, Academia 7; o.19B: WHS 20, Grootfontein 12.