1993

HTS is skole-kampioen

DIE rugbyspan van HTS het gister in die Nasionale Rugbystadion die trotse houer van Metropolitan se Raadskild geword toe hy Academia in die skole-eindstryd met 11 - 6 geklop het. HTS het ook met hierdie oorwinning die seisoen onoorwonne afgesluit. Die wedstryd het baie gelykop verloop. Die rustydtelling van 6 - 6 som die wedstryd op. HTS het gewen omdat hy sy kanse in punte omgeskep het, terwyl Academia vier taamlik maklike skoppe na die pale verbrou het. Voorlangs was die stryd baie hard. Die twee spanne het mekaar in die skrums behoorlik opgedons, maar in die lynstane het Shaun Powell vir HTS die stryd gewen. Agterlangs was daar geen deurkomkans nie. Daar was feitlik geen geleentheid wat die agterspelers die voordeellyn kon oorsteek nie.

Die wedstryd is ook deur 'n horde strafskoppe ontsier. In 'n sekere stadium is albei spanne in bewegings vir die speel van die bal op die grond gestraf. Dit is beslis een aspek waarna aanstaande jaar gekyk moet word. HTS se senter Naudé de Jager het sy span se rekening met twee strafskoppe in die eerste tien minute geopen. Daarna het die losskakel van Academia, Jan van Zyl, ook met twee strafdoele geantwoord. Die enigste punte in die tweede helfte was 'n drie deur die kantman Sybrand de Beer.