1995

WHS na agt jaar weer kampioen


DIT het hulle agt jaar gevat om daar te kom, maar soos WHS gister die eindstryd om die Metropolitan-Superliga teen HTS in die Nasionale Rugbystadion in Windhoek gewen het, gaan dit ander spanne nog agt jaar vat om hom te onttroon.

WHS het die gedugte HTS-pak met vlymskerp hardlooprugby van sy voete gespeel en ʼn dag se mooi rugby met ʼn oorwinning van 25 - 6 afgesluit.

Die Auas Delta-span was rustyd al met 17 - 3 voor na drie pragdrieë deur agtsteman PW van Zyl, senter Johan Struwig en vleuel Pierre van Rensburg. Philip Steyn (heelagter) kon net een keer doel. In die tweede helfte het hy met ʼn strafskop geslaag. Die ander punte het van ʼn skitterende drie van Struwig gekom.

HTS se ses punte het gekom van die skopskoen van heelagter Morné du Plessis, wat een strafdoel in elke helfte behaal het. HTS het kanse gehad, maar dit nie benut nie.

Daarenteen het WHS elke bruikbare bal benut en sy gevaarlike agterlyn het gate deur die onttroonde kampioen gehardloop. In die ander wedstryde het Etosha vir Academia met 13 - 10 geklop in die o14 B-liga WHS was ook die wenner in die o. 14A-liga toe hy HTS met 10 - 0 geklop het.

Dr. Lemmer se o. 15A-span was te goed vir Mariental en het die B-liga met 26 - 19 gewen, terwyl WHS ook die o.15A-liga teen Wennie du Plessis met 21 - 17 beklink het.

In die o.19C -liga was die uitslag gelykop tussen Suiderlig en Jan Möhr met 10 - 10. In die o.19B-liga het Academia en HTS met 6 - 6 gelykop gespeel. Otjiwarongo was die wenner van die o.19 A-liga nadat hy Grootfontein met 11 - 6 geklop het. Die derde plek in die Superliga het gegaan aan PK de Villiers, wat in die tweede helfte met Academia se eerste span weggehardloop het om met 33 - 11 te wen.