1996

WHS steeds skole se rugbykampioen


Deur Andrew Poolman

Die onder 19-rugbyspan van Auas Delta Windhoek Hoërskool is die 1996 Metropolitan Raadsbeker Superligakampioen.

Hy het Market Motors Academia I Saterdag in die eindstryd met 9-6 geklop. Academia was rustyd met 6- 3 voor teen die kampioenspan van 1995. Daar was werklik bitter min te kies tussen die spanne. Academia het 'n klein voorsprong op sowel balbesit as gebiedsvoordeel gehad, maar kon WHS se verdediging nie uitoorlê nie. Saam met die wind en son moes Academia in die eerste helfte dalk 'n groter voorsprong opgebou het, maar ondeurdringbare verdediging en oorgretigheid het albei spanne se doellyne ongeskend gelaat. In die lynstane het al die slotte met ondersteuning weer skouspelagtige hoogtes bereik, terwyl die voorspelers in die los 'n klein oorloggie gevoer het. WHS was die span wat sy kanse die beste benut het. Die losskakels, Jan van Zyl (2) van Academia en Boer Norval (3) van WHS, het hul spanne se punte met strafdoele aangeteken.

Die uitspeelwedstryd om die derde plek in die Superliga is tussen Hoërskool Otjiwarongo en HTS I is met 32-21 deur Otjiwarongo gewen. Otjiwarongo het die Mooispeelbeker met briljante hardlooprugby ingepalm. Dié slag het die bal vir Cor van Tonder se span reg gespring nadat hy verlede week deur Academia uitgeskakel is. Losskakel Vincent Dreyer was die angel met briljante verspreiding, terwyl heelagter Schalk Maartens gevaarlik by die agterlyn aangesluit het.